

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 March 2002
'n Indringervis, die Nylkurper, is vinnig besig om aan te teel in plaaslike riviere en damme en roei in die proses die plaaslike bloukurper uit.
Volgens prof. Ben van der Waal van die Departement van Biologiese Wetenskappe aan die Universiteit van Venda kom die bloukurper of Mosambiekkurper (Oreochromis mossambicus) wydverspreid in die Limpoposisteem voor. Dit is een van die vernaamste en gesogste hengelvisse in Suid Afrika.
In die Nylrivier kom 'n aanverwante soort voor wat deur menslike toedoen suidwaarts versprei is in die Zambesi en nou ook die Limpopo.
"In 1996 is die eerste Nylkurpers in panne van die Limpopo in die Krugerwildtuin versamel. Navorsing op bevolkings in die Limpoporivier en plaasdamme naby die Botswanagrens, het onteenseglik getoon dat die Nylkurper nie net kompeteer met die bloukurper vir voedsel en broeigebied nie, maar ook suksesvol daarmee verbaster," veduidelik prof. Van der Waal. Baie van die visse in die Limpopo is nou hibriede, en waarskynlik is hulle ook vrugbaar en kan nou in alle sytakke van die Limpopo versprei.
Die Biologiedepartement van die Universiteit van Venda loods tans 'n studie oor die biologie van die bastervis in die Limpoporivier en plaasdamme waar dit voorkom. Die vis het blykbaar dieselfde vreet- en broeigewoontes as die bloukurper – en dit alleen is al rede tot kommer. Die verbastering is egter van groter belang aangesien dit die uiteindelike verdwyning van die bloukurper as vissoort in ons riviere mag beteken. Opregte bloukurpers sal slegs suiwer en behoue kan bly in damme en riviersisteme wat totaal van die Nylkurper geïsoleer is.
"Die bastervisse toon sommige van die eienskappe van die bloukurper. Hoe dit later gaan lyk, weet ons nie. Dis heel moontlik dat die nuwe basterspesie geneties swakker is en dan sal die kwaliteit daarvan geleidelik agteruitgaan en nooit mooi groot hengelvisse oplewer nie of maer word met groot koppe – soos wat in waters in Taiwan gebeur het," sê prof. Van der Waal.
Die hengelpubliek word versoek om enige ongewone kurpers wat gevang word, dadelik aan te meld by die plaaslike natuurbewa-ringspersoneel of by prof. Ben van der Waal. Dit kan gedoen word deur foto's van visse te neem wat vreemd lyk. Nog beter, heel visse of net die koppe en sterte kan gepreserveer word in 'n tien persent formalienoplossing (verkrygbaar by apteke), of dit kan in gevriesde vorm by prof. Ben van der Waal uitgekry word. Sy adres is : Department of Biological Sciences, University of Venda, PO Bag X 5050, Thohoyandou, 0950 .
Onder geen omstandighede moet die Nylkurper lewend vervoer en in riviere of damme losgelaat word nie – dit is onwettig en versprei die probleemvis nog meer. Prof. Van der Waal kan gekontak word by 015 962 8479 of per e-pos by [email protected].

ADVERTISEMENT:
