

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 May 2014
Die huidige straatlig-projek van die Makhado Munisipaliteit word wyd verwelkom.
Die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het bevestig dat daar ‘n program gevolg word om straatligte te vervang. “Makhadopark en die nuwe uitbreiding is tans aan die beurt. Die program word bestuur en geïmplementeer deur ons eie amptenare, ‘n toegewyde span onder leiding van mnr. Kone, en hulle doen goeie werk. Een van die spesiale gloeilampe kos ongeveer R1 000 en ons gebruik interne befondsing daarvoor,” het Mutshinyali gesê.
Hierdie normale onderhoud wat ten opsigte van straatligte gedoen moet word, het ‘n groot hupstoot gekry toe die Soutpansberg Dorpswag, onder leiding van mnr. Dirk Meissenheimer, ‘n straatplan van die nuwe uitbreiding opgestel het wat presies aantoon watter ligte nie brand nie en dit aan DA-raadslid Brian du Plooy oorhandig het om aan die munisipale bestuurder te gee.
“Ons praat by al die forums oor die verhoogde veiligheidsrisiko waar straatligte afwesig is. Hoe baie keer kla ons almal net, maar doen nie iets aan ‘n saak nie,” het Meissenheimer gesê. Die gebrekkige straatligte het by die sektormisdaadforum ter sprake gekom en by algemene misdaadvergaderings word dit telkens deur die gemeenskap opgehaal. Meissenheimer het ’n straatkaart geneem en spanne van die dorpswag het daad by die word gevoeg. Hulle het eers Alpha-sektor (die nuwe uitbreiding) se straatligopname voltooi.
Du Plooy het bevestig dat hy met dié plan na die munisipale bestuurder en tegniese afdeling gegaan het. “Die munisipaliteit het reeds begin met gebiede wat volgens ons statistieke hoë-risiko misdaadgebiede is en is redelik naby aan klaar daarmee. Die dorpswag se inligting rondom die nuwe uitbreiding is baie handig en sover lyk dit of dit aandag geniet het. Ons kan die munisipaliteit ‘n pluimpie daarvoor gee,” het Du Plooy gesê.
Mutshinyali het gesê dat die munisipaliteit se straatligprojek in die middedorp en onderdorp voltooi is en dat Tshikota aan die beurt sal kom na die afhandeling van Makhadopark en die nuwe uitbreiding.
“Ek sien reeds ‘n verandering in Alpha. Die kriminele sien die straatligte raak. Ons wil nou nog die ander sektore ook deurgaan en aandui watter straatligte nie brand nie,” het Meissenheimer gesê.
Tesame met die straatligprojek pleit Meissenheimer by die dorp om weer betrokke te raak by die dorpswag en te help skofte ry. “Mense, sluit aan by die Dorpswag sodat ons misdaad kan bekamp en die polisie se hande kan versterk. Waar is die dae wat ons tussen 400 en 500 mense was? Ons kort nog so 200 mense, dan is ons saam met ons 86 huidige lede reg vir die 273 skofte wat gery moet word. Ons doen ook so twee oefeninge per maand; kom klim in!” vra Meissenheimer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
