ADVERTISEMENT:

 

Hof moet besluit

 

News  Date: 16 May 2014

 

‘n Boer van die Alldays-omgewing sal binnekort weet of sy aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof om die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef te kry, geslaag het.

Mnr. Johan Kruger, ‘n wildboer van Alldays, is al in ‘n jaarlange stryd met die Staat oor dié aangeleentheid. Hy het ook ‘n aansoek gebring dat sekere dele van die Wet op Biodiversiteit se regulasies oor beskermde of bedreigde spesies hersien en ongeldig verklaar word.

Behalwe vir renosters, boer Kruger ook met ander skaars wildspesies soos buffels en swartwitpensbokke. Hy het al in die verlede ‘n renoster weens stropery verloor, en dien nou die aansoek in omdat hy as boer en teler belang het by die beskerming van renosters. Behalwe vir sy renoster, was daar sedert Kruger se aansoek nog vier ander bevestigde gevalle waar renosters naby sy plaas doodgemaak is deur stropers vir hul horings.

Volgens Kruger se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee van Musina, het renosterstropery drasties toegeneem sedert die verbod op die verkoop van renosterhorings ingestel is deur die regering. “Daar is nooit deur die regering gekonsulteer met belanghebbende partye soos wildboere, wat insluit renosterboere, voor die moratorium ingestel is nie,” het Erwee gesê. Hy het gesê meer en meer persone wend hulle nou tot die howe in soortgelyke sake omdat dit duidelik is dat die regering totaal gefaal het om renosters te beskerm.

Kruger se aansoek is gebring teen die Minister van Waterwese en Omgewingsake, die Wildbedryf van Suid-Afrika (WRSA) en die vereniging vir private renostereienaars van Suid-Afrika. In sy aansoek het Kruger die mening uitgespreek dat die kommersiële handel in renosterhorings, met behoorlike beheer, ‘n meer sinvolle en volhoubare oplossing vir renosterstropery sal wees. Kruger het ook die hoop uitgespreek dat die hersiening van die regulasies renosterboere in staat sal stel om ‘n wins te maak. Hy het gesê dat as sy aansoek slaag, dit die handel sal oopstel, wat sal lei daartoe dat die vraag na en aanbod van renosterhorings behoorlik gemonitor sal word.

“Statistiek het bewys dat indien handel in ‘n dier toegelaat word, die getalle optel en vermeerder, soos blesbokke wat ongeveer 20 jaar gelede amper uitgewis was en, nadat die verbod op handel daarin opgehef is, is daar nou ‘n ooraanbod,” het Erwee bygevoeg.

Erwee het vandeesweek bevestig dat hy en Kruger hoopvol is dat die aansoek sal slaag. Die Regter President het reeds aangedui dat daar ‘n volle bank regters aangestel sal word om die aansoek aan te hoor, omdat die saak vir hom ernstig en dringend is. ‘n Datum vir die aanhoor van die aansoek sal binne drie maande aan Erwee bekend gemaak word.

Nog dele van die wet wat Kruger hersien wil hê, is wat renostereienaars met horings mag doen. Dit sluit in regulasies wat voorskryf dat ‘n renosterboer of –eienaar nie die horing van ‘n renoster wat aan natuurlike oorsake dood is of deur stropers gewond is self mag afsny of vervoer nie. In so ‘n geval moet daar eers aansoek gedoen word vir ‘n permit.

“Baie regulasies hou nie rekening met die praktiese kwessies en omstandighede nie. Dit beskerm die renoster nie en verseker nie die suksesvolle voortplanting van renosters nie … en het tot gevolg dat wetsgehoorsame renosterboere in sekere gevalle die wet oortree,” sê Kruger in sy hofstukke.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines