

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Dieplaaslike nood- en reddingsdienste verwag 'n bedrywige Maart, met agt ongelukke wat reeds sedert die begin van die maand op die streek se paaie plaasgevind het.
Die ergste van die ongelukke het omstreeks 07:15 op Dinsdag (5de) op die Elim/Giyani-pad plaasgevind. 'n Polisie- kaptein is in die ongeluk dood, nadat sy voertuig kop-aan-kop met 'n aankomende bakkie gebots het. Die oorledene het na bewering gepoog om vir die bakkie, wat aan die verkeerde kant van die pad gery het, uit te swaai, maar die bakkie het in dieselfde rigting uitgeswaai.
Op Vrydag (1ste) is daar een ongeluk op die Entabeni-gruispad gerapporteer, gevolg deur twee ongelukke Saterdagmiddag (2de) skaars vyftien minute uit mekaar op die Elim/Vleifontein-pad. Sondagmiddag is nooddiens-personeel ontbied na 'n ongeluk op die Hanglip-bosboupad, waarna 'n taxi en 'n vragmotor op Maandag (4de) op die Messina-pad met mekaar gebots het. Oomblikke voor die ongeluk Dinsdagoggend het 'n motoris die pad byster geraak by die Witvlag-aansluiting met die N1. Twee vragmotors het Dinsdagmiddag met mekaar gebots op die N1 na Messina by Wylliespoort. Een van die vragmotors wat vol staal gelaai was, het omgeslaan en gerol.
Gedurende Februarie was daar 'n afname in ongelukke in vergelyking met die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Verlede Februarie is twintig ongelukke, waarin 11 mense dood is, agt ernstig en 13 lig beseer is, aangemeld. Vanjaar is 13 ongelukke aangemeld waarin drie mense dood, vyf ernstig en sewe lig beseer is.
Die statistiek vir Januarie vanjaar stem in 'n groot mate ooreen met die van verlede jaar, alhoewel daar 'n geringe styging was. In Januarie verlede jaar is 21 ongelukke aangemeld in vergelyking met die 20 in Januarie vanjaar. Dié ongelukke het egter vanjaar die lewens van vyf mense geëis in vergelyking met die een geval verlede jaar. In beide maande is slegs twee persone ernstig beseer, tewryl 22 persone verlede jaar en 24 persone vanjaar lig beseer is.

ADVERTISEMENT:
