ADVERTISEMENT:

 

Gewapende roof op Albasini-pad

 

News  Date: 28 March 2003

 

LOUIS TRICHARDT - Die polisie stel ondersoek in na 'n klag van gewapende roof en motorkaping, nadat 'n vrou hier Dinsdagoggend in 'n nagmerrie-ondervinding hardhandig van haar motor, geld, juwele en selfoon beroof is. Sy en haar passasier is vir 'n geruime tyd vasgebind in 'n bos agtergelaat, nadat die aanvallers met die voertuig en geld weggejaag het.

Die voorval het vroeg Dinsdagoggend op 'n grondpad in die omgewing van die Albasinidam plaasgevind, toe mev. Marlene Whitehead en haar huisbediende vanaf hul hoewe op pad dorp toe in 'n lokval beland het. Daar was 'n tak oor die pad gesleep en sy moes stilhou om dit te verwyder.

Twee mans, die een gewapen met 'n vuurwapen en die ander een met 'n byl, het hardhandig beheer oor die voertuig oorgeneem en met hulle nog in die motor weggejaag verby Levubu na die Malemulele-pad, waar mev. Whitehead en die bediende na 'n jaagtog van sowat drie ure hardhandig uit die voertuig geruk en geld van hulle geëis is. Hulle het sowat R600 en mev. Whitehead se juwele en selfoon gebuit en die twee vroue vasgebind met die veiligheidsgordels wat hulle uit die voertuig losgesny het. Die twee vroue is alleen in die bos agtergelaat en die twee rowers het met die voertuig weggejaag.

Mev. Whitehead het daarin geslaag om haarself los te woel en ook die bediende bevry. Hulle het met 'n ompad weggehaas vanaf die plek waar hulle agtergelaat is en het later 'n saamrygeleentheid agterop 'n bakkie gekry tot by die polisiestasie op Thohoyandou.

'n Erg geskokte mev. Whitehead het 'n verstuite duim en krapmerke in die voorval opgedoen. Die voertuig, 'n Volkswagen Polo met registrasienommer DXL 144 N was met druktyd nog soek.

Mnr. Ferdie Whitehead het vertel hoe hy eers onraad gemerk het toe mense by sy vrou se werk gebel het om te sê sy het nog nie daar opgedaag nie. Toe hy haar selfoonnommer skakel en nie antwoord kry nie, het hy besef daar is iets ernstig verkeerd. In die soektog na mev. Whitehead het hulle op die plek afgekom waar die tak uit die pad gesleep is. Hulle het ook 'n pakkie met gewaste handdoeke, wat mev. Whitehead saamgeneem het kantoor toe, langs die pad gevind. Nadat hy die polisie geskakel het, het hy vasgestel dat sy eggenote veilig weggekom het en haar by die polisiestasie bevind.

Mev. Whitehead het gesê sy het heeltyd met die rowers gepraat en hulle het beklemtoon dat hulle geld soek. Die bediende het na die voorval vir mev. Whitehead gesê die rower met die vuurwapen was van plan om hulle te skiet. Sy het hulle in Sotho hoor praat. Die rower het egter net een koeël gehad en kon dit nie afgevuur kry nie. Gevolglik is hulle ongedeerd vasgebind en in die bos agter gelaat.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines