ADVERTISEMENT:

 

Na 'n noue ontkoming en 'n gesamentlike reddingspoging van verskeie instansies, is Dino terug by sy eienaar, mnr. Herman Smith.

Spanpoging nodig om papegaai terug te kry

 

News  Date: 29 May 2014

 

‘n African Grey papegaai wat op ‘n kragdraad gesit het en nie weer kon afkom nie, is deur ‘n gesamentlike poging uiteindelik gered.

Dino, een van oom Herman Smith van Makhado (Louis Trichardt) se papegaaie, het op 12 Mei uit die huis gevlieg en die nag buite deurgebring. Hy is in die tuin van die bure oorkant die straat in ‘n boom gesien. Die 71-jarige oom Herman is bo-oor die muur agter Dino aan, wat hom op ‘n droë takkie van ‘n avokadoboom tuisgemaak het. “Ek het op ‘n leertjie geklim maar kon net die punt van die tak bykry. Die takkie het gekraak en Dino het koers gekies na die kragdrade. Ek kon sien hy wil afkom, maar omdat hy nie gewoond is aan vlieg nie, het hy net bollemakiesie al om die draad geslaan,” het oom Herman gesê. Dit het ook nie gehelp om die voëlhok met die ander papegaaie daarin onder Dino neer te sit nie.

Die groot reddingspoging het Dinsdag (13de) plaasgevind. Oom Herman het die Makhado Munisipaliteit se hulp ingekry, die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging het bemiddel en mnr. Lawrence Khodobo van die DBV  het ook kom help. Die munisipaliteit het die elektrisiteit op die hoek afgeskakel en ‘n bakkie met ‘n leer gestuur. Dié was egter te kort om by te kom. Daarop het ‘n munisipale kersieplukker-masjien kom hand bysit.

“Die probleem is dat Dino net na my toe sal kom.  Daar was geen ander raad as dat ek in die kersieplukker se bak klim nie. Weet jy hoe diep is daardie bak? As ek daarin staan, vat dit my tot onder my arms. Ek het gewonder hoe ek weer daar gaan uitkom,” sê oom Herman. Dino het egter geskrik vir hierdie gevaarte wat na hom aankom en het verder weg op die kragdraad beweeg. Een van die munisipale amptenare het een van die lang pale geneem waarmee die elektrisiteit by die paal afgeskakel word en Dino van die ander kant af bedreig, sodat hy eerder nader aan “sy pa” tot in sy hand beweeg het . Die DBV het ‘n net oor Dino gegooi sodat hy nie weer kon wegkom nie.

Oom Herman het homself en almal verras deur gou daarin te slaag om homself uit die bak te lig en af te klim tot op die bakkie. “Tydens die hele petalje het ‘n deftige Indiërvrou ‘n paar keer kom stop en kom raad gee. Sy het weer die volgende dag kom hoor of ons reggekom het. Sy is ook ‘n voëlliefhebber. Haar man dink ons is stapelgek met alles wat ons vir ons papegaaie doen!” het oom Herman vertel. Hy is innig dankbaar vir almal se hulp en vir die kersieplukker van die munisipaliteit waarsonder hulle nie vir Dino sou kon afkry nie. Hy wil nie eers dink aan al die moontlikhede wat met Dino sou kon gebeur het as hulle hom nie afgekry het nie. "Dino is nie gewoond daaraan om vir homself te sorg nie en hy kon dood gewees het."

Dino is met elektroliete teen skok behandel en is al weer sy ou self. “Ons het verseker sy vlerke geknip,” het oom Herman gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines