

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 March 2003
LOUIS TRICHARDT – Verontwaardiging is besig om uit te kring oor die besluit van die Makhado Munisipaliteit om die Inheemse Boompark in Louis Trichardt tot niet te maak. 'n Bekende akademikus het die voorneme as "waansin" bestempel.
Die Munisipale Raad het besluit om die waardevolle natuurbate, wat oor die afgelope kwarteeu gevestig en in stand gehou is, tot niet te maak en te verkoop vir die vestiging van sake-ontwikkeling in die gesogte Groen Gordel-gebied. Die bewaarpark vir inheemse bome is in 1978 gevestig en die afgelope kwarteeu gereeld aangevul met aanplanting deur skoolkinders en ander natuurliefhebbers op nasionale Boomplant Dag. Verskeie burgemeesters van die dorp het deur die jare ook formeel op Boomplantdag inheemse bome in die besonder bewaarpark geplant.
Een van die uitheemse boomsoorte wat weens historiese redes ook in die boompark bewaar word, is 'n wilde vrugteboom wat deur Indiër pioniers aan die einde van die negentiende eeu na die dorp saamgebring is. Die park bevat meer as 300 volwasse inheemse bome wat meer as 80 boomsoorte verteenwoordig. Dit sluit etlike spesiaal beskermde boomsoorte in.
Van sover as die Kaap het plantkundiges skok en verbasing uitgespreek oor die voorneme van die Makhado Munisipale Raad om hierdie onvervangbare wetenskaplik beduidende botaniese versameling tot niet te maak. Die hoof van die Botaniese Tuin op Stellenbosch, Deon Kotzé, het by navraag gesê hy is goed bekend met die dorp se unieke Groen Gordel-gebied. Dit is 'n wesenlike deel van die dorp se bekoring, wat veral vanuit 'n toerisme oogpunt van onskatbare waarde is. Die Boompark het uitmuntende potensiaal om ontwikkel te word as Botaniese Tuin, Arboretum of Natuurtuin, wat met die regte benadering werk vir talle gemarginaliseerde inwoners kan bied en terselfdertyd uit die toerisme bedryf 'n beduidende langtermyn volhoubare inkomste vir die gemeenskap kan genereer.
'n Span wat programme vervaardig vir die SABC se bekende program 50/50 het die dorp vandeesweek besoek en hul verwondering uitgespreek oor die idilliese skoonheid en aanskoulike verskeidenheid bome, wildlewe en historiese reste wat in die Inheemse Boompark aangetref word. Die bekoring van die Boompark verdiep hoe verder 'n mens dit binnegaan.
Tydens die opname van 'n inset wat hulle vir 50/50 oor die huidige Boompark debakel vervaardig, het bekende akademikus en digter, Prof. Fanie Olivier gesê: "Dit sou waansinnig wees om so 'n belangrike funksionele ekologiese bate te verwoes en te verkoop. Die bewaring van ons menslikheid en menswees hang ten nouste saam met ons omgang met die natuur, al is dit dikwels onbewustelik." Hy het gesê later geslagte sal verseker die huidige geslag verkwalik as hulle so 'n onvervangbare natuurerfenis sou beskadig. Hy het dit beklemtoon dat ruim alternatiewe grond wat baie meer geskik is vir sake-ontwikkeling, beskikbaar is. Prof. Olivier het ook die beoogde vestiging van sake-ontwikkeling op die bestaande sportgronde as ondeurdag en onverantwoordelik verwerp.

ADVERTISEMENT:
