

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 March 2003
LOUIS TRICHARDT – Kommer is aan die toeneem oor lede van die Makhado Munisipaliteit se lisensie-afdeling se skynbare onbehulpsame en soms arrogante houding teenoor lede van die publiek.
Talle inwoners kla oor die swak diens wat hulle by die lisensie-afdeling ontvang. Dit is veral inwoners wat nog nie hul ou tipe bestuurslisensies omgeskakel het na die nuwe kredietkaart-tipe nie, wat hul teen probleme vasloop. Munisipale beamptes word onder meer daarvan beskuldig dat hulle doelbewus dié persone teiken in 'n poging om hulle 'n "les te leer" aangesien hulle nie betyds omgeskakel het nie.
Selfs hoër op in die rangorde blyk daar probleme te wees ten opsigte van dienslewering aan die publiek, teenstrydig met die nasionale regering se beleid van Batho Pele, oftewel mense eerste. Die probleem hou veral verband met die kwessie rondom die aanvaarbaarheid van oogtoets-sertifikate wat deur privaat geregistreerde oogkundiges uitgereik word. 'n Oogtoets is verpligtend vir bestuurders wat wil omskakel na die nuwe tipe bestuurslisensies. Volgens die Departement van Openbare Vervoer se amptelike webtuiste moet 'n munisipaliteit so 'n sertifikaat aanvaar, maar die plaaslike lisensie-afdeling hou voet by stuk dat só 'n sertifikate nie aanvaarbaar is nie en dat persone hul oë by die munisipaliteit moet toets.
Die klagtes is egter nie net ten opsigte van die verkryging van die nuwe kredietkaart tipe bestuurslisensies nie, maar ook ten opsigte van onder meer voertuigregistrasies. Inwoners word letterlik verplig om in lang rye te staan, net om 'n vorm te bekom. Daarna moet hulle weer in 'n ry gaan staan, nadat die vorm ingevul is. Die vorms, wat veronderstel is om vryelik beskikbaar te wees, word by die inligtingstoonbank by die munisipaliteit gehou. Selde is daar genoeg persone om die toonbank te beman. Die probleem word verder vererger weens die feit dat beamptes ure spandeer om vorms vir persone in te vul, terwyl ander inwoners doodeenvoudig maar net moet wag. Soos een dame opgemerk het: "Ek het matriek. Ek kan self die vorm invul. Waarom moet ons dan vir ure in 'n ry staan? Kan hulle nie maar net die vorms vryelik beskikbaar stel vir mense wat wel kan lees en skryf nie!"
Die Direkteur van Gemeenskapsdienste by die plaaslike munisipaliteit, mnr. Mavhungu Musetha het Woensdag gesê dat hy sy personeel opdrag gegee het om nié die oogtoets-sertifikate van privaat oogkundiges te aanvaar nie. Die rede hiervoor, sê mnr. Musetha, is weens die feit dat hulle geen manier het om die egtheid van só 'n sertifikaat te bepaal nie. Die afgelope paar maande is daar baie gedoen om die onwettige uitreiking van bestuurderslisensies te bekamp en, sê mnr. Musetha, het hulle 'n verantwoordelikheid om te verseker dat 'n bestuurderslisensie nie aan 'n persoon uitgereik word wat nie aan al die voorskrifte voldoen nie. Dit het al gebeur, sê hy, dat persone wat weet hulle gaan nie 'n oogtoets slaag nie, privaat oogkundiges oorreed het om 'n sertifikaat aan hulle uit te reik sonder dat hul oë getoets word. Mnr. Musetha het bygevoeg dat ten spyte van die verklaring op die Departement van Openbare Vervoer se webtuiste, hulle nog geen skriftelike dokumentasie van die betrokke owerheid ontvang het wat hulle verplig om oogtoets-sertifikate van privaat oogkundiges te aanvaar nie. Sou hulle wel sulke dokumentasie ontvang, sê hy, sal hulle gehoor gee aan die vergunning.
Met betrekking tot amptenare se skynbare arrogante en onhulpvaardige optrede, het mnr. Musetha gesê dat beskuldiging soos dié hom geweldig ontstel. Hy het die beskuldigings afgemaak as ongevraagd en gesê dat die betrokke beamptes letterlik dag en nag werk om te verseker dat alle aansoeke betyds verwerk word. Mnr. Musetha sê dat in aanloop tot die eerste afsnyperiode vir omskakeling na die nuwe formaat bestuurderslisensies, het die Raad op eie inisiatief besluit om selfs na ure nog aansoeke te verwerk. Baie van die beamptes wat by die proses betrokke is en was, sê hy, is nie eers permanente werkers nie, maar mense wat hul tyd opgeoffer het om te help. Mnr. Musetha het ook die beskuldiging dat beamptes persone wat laat registreer 'n "les wil leer" verwerp.
Wat die kwessie rondom die lang rye vir die verkryging van voertuigregistrasie vorms betref, het mnr. Musetha gesê dat hulle reeds die afgelope week met beplanning begin het om die probleem te probeer oplos. In dié verband het hy persone wat hom reeds geskakel het met klagtes bedank vir hul insette en ook ander inwoners uitgenooi om met hom in gesprek te tree sou daar probleme met sy departement ontstaan. Laastens het hy 'n beroep gedoen op inwoners wat nog nie omgeskakel het na die nuwe formaat bestuurslisensies nie, om nie weer te wag tot op die laaste oomblik nie. Die tyd vir omskakeling verstryk einde April vanjaar.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
