

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 March 2002
LOUIS TRICHARDT - Die huurkontrak van sportliggame wat van die sportsaal op Louis Trichardt gebruik maak, gaan waarskynlik gewysig word.
Op die jongste maandelikse vergadering van die munisipale raad is voorgestel dat die huurkontrakte hersien moet word, sodat die saal meer geredelik beskikbaar gestel kan word vir algemene funksies.
Na aanleiding van ‘n spesiale vergunning wat onlangs gemaak is om die saal vir ‘n reuse troue beskikbaar te stel, het rdl. M. M. Makhado gesê die saal behoort algemeen beskikbaar te wees vir verdienstelike gevalle.
Die munisipale bestuurder, mnr. Reuben Rambado, het daarop gewys dat dit strydig sou wees met die huidige huurooreenkoms tussen die Raad en die betrokke sportliggame.
Burgemeester Brighton Tlakula het gesê hy het die betrokke huwelik in die saal bygewoon en was getref deur die feit dat dit waarskynlik die grootste en beste saal in die hele munisipale gebied is. Hy stem saam dat dit meer vryelik beskikbaar behoort te wees vir die hele gemeenskap.
Die moontlikheid om die bestaande huurooreenkoms te wysig, sal nou ondersoek word.
Op dieselfde vergadering is ‘n versoek deur die Zoutpansberg Football Association goedgekeur om ‘n voltydse kantoor in die Madabani/Vhuilafuri Stadion te huur, op voorwaarde dat die vereniging bereid sal wees om die kantoorruimte met moontlike ander belangstellende sportliggame te deel, as hulle daarvoor sou vra.
‘n Formele huurooreenkoms sal met die Raad aangegaan moet word en die vereniging sal jaarliks ‘n geouditeerde finansiële staat aan die raad moet voorlê, tesame met ‘n jaarprogram en ‘n ledelys.

ADVERTISEMENT:
