ADVERTISEMENT:

 

Die eienaars van die Grasdak Gastehuis in Makhado (Louis Trichardt) ontbos self die digbeboste gedeelte oorkant hulle besigheid, en nie die munisipaliteit nie. Hier is mnr. Thapelo Mangomeni, ‘n werknemer van Grasdak, besig om 'n gedeelte van die bos, wat 'n groot kriminele element huisves, skoon te kap.

Inwoners, nie Raad, doen self ontbossing

 

News  Date: 30 May 2014

 

Inwoners het self ingespring om digbeboste gedeeltes te ontbos nadat die munisipaliteit in gebreke gebly het om hierdie probleem aan te spreek.

Van hulle sluit in die eienaars van die Grasdak Gastehuis in Makhado (Louis Trichardt) in Celliersstraat. In verlede week se Zoutpansberger is daar aangedui dat die munisipaliteit blykbaar die 400m gedeelte bos voor die Grasdak ontbos, na aanleiding van klagte van kriminele aktiwiteite wat vanuit die digte bosse bedryf word.

“Ons het nog nie in die 16 jaar wat ons hier is, gesien dat die munisipaliteit aandag aan hierdie bosse gee nie. As dit begin lank word, kap Thapelo vir omtrent drie ure elke dag,” sê me. Annette du Preez van die Grasdak. Mnr. Thapelo Mangomeni, een van haar arbeiders, wys ook sommer dadelik die eelte en blase op sy hande van al die kappery. So het mnr. Rossie Bezuidenhout, wat skuins oorkant woon en wie se erf aan die bosse grens, ook ‘n paar weke gelede met ‘n hele span werkers ‘n groot gedeelte van die digte bosse skoongemaak. “Mnr. Daan Enslin het die hoek van Cilliers en Songozwi mooi skoongemaak en mnr. Renier Fourie klim ook in,” sê Annette se seun, mnr. Colin Gamble.

Rowers is veral lief daarvoor om vinnig in die digte bosse te verdwyn, ná rooftogte. “As hulle in die bosse is, kry jy hulle net nie … Die bosse is net te dig,” het Annette gesê. Colin sê dat hy al gesteelde goedere in die bosse gekry het en koperkabels waarvan die omhulsels afgetrek is.

Misdaad in hierdie gedeelte van die dorp word verder vererger deur die feit dat die straatligte voor die Grasdak die laaste paar weke nie meer werk nie. “Die straatligte het baie mooi gewerk vir ‘n ruk. Nou werk dit glad nie,” sê Annette.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit gereageer op vrae oor die digte bosse en die veiligheidsrisiko wat dit vir inwoners inhou. “Die area in Celliersstraat oorkant Grasdak is privaateiendom,” was munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi se antwoord. “Sover my kennis strek, is dit munisipale grond. Die munisipaliteit moet dan vir ons sê aan wie die grond behoort,” was Annette se reaksie.

Nog ‘n probleemarea is die digte bosse aangrensend tot Pretoriusstraat. Bobodi het gesê dat hierdie gedeelte langs die spoorlyn deur Transnet in stand gehou moet word. “Ons kan slegs daarmee help as ons al ons eie areas afgehandel het,” het Bobodi gesê.

Meer as een inwoner het al genoem dat misdaad afneem wanneer veldbrande in die wintermaande die beboste gedeeltes kaal brand. Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het ook genoem dat ‘n munisipaliteit moontlik versoek kan word om deur middel van beheerde brande probleemareas skoon te brand. Die munisipaliteit het egter op 21 Mei gesê dat hulle hierdie opsie geensins oorweeg nie, selfs al is dit nie deel van ‘n groengordel nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines