ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Hannes Kelly

Twee in hof oor Kelly se dood

 

News  Date: 30 May 2014

 

‘n Selfoon, wat behoort het aan mnr. Hannes Kelly van Levubu wat dood is na ‘n aanval, het gelei tot die arrestasie van twee mans.

Die 52-jarige Kelly is op Werkersdag (1 Mei) deur twee mans met hamers en stokke aangeval, terwyl hy besig was om sy vullis uit te neem. Die rowers het Kelly vir dood agtergelaat, nadat hulle hom geforseer het om sy kluis vir hulle oop te maak en al sy geld en selfone geroof het.

Ten tye van sy dood was Kelly die eienaar van die Beaufort-winkel wat hy vanaf sy plot bedryf het. Hy het na die aanval daarin geslaag om homself by die Levubu polisiestasie uit te kry en ‘n verklaring af te lê.

Drie dae later is Kelly oorlede. Hy het by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal inmekaar gesak terwyl daar reëlings getref is om hom na Polokwane te vervoer vir verdere mediese behandeling.

Die twee mans wat verdink word van die aanval op Kelly, Tabelo Teophillus Singage (20) en Maxwel Conti Ntatamala (23), is op 10 Mei deur die Levubu polisie gearresteer en is in polisie-aanhouding. Die twee het reeds op 13 en 16 Mei in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn en staan tereg op ‘n klag van huisbraak en nog ‘n klag van moord. Die Zoutpansberger het ook verneem dat Singage en Ntatamala met ander voorvalle van misdaad in die Levubu-omgewing teen boere verbind word. 

Singage en Ntatamala sou na verwagting Woensdag ‘n formele borgaansoek bring. Hul aansoek is egter uitgestel tot 5 Junie. Die Levubu polisie het reeds aangedui dat hulle die aansoek sal teenstaan. Intussen bly hulle in aanhouding.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines