ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Vasgetrek!

 

News  Date: 30 May 2014

 

Spore op die grond het gelei tot die inhegtenisname van drie verdagtes wat glo van plan was om renosters by Eckland Safari’s te gaan jag.

Die vinnige optrede deur werkers van dié bekende wild- en jagplaas naby die Masekwaspoort-omgewing het sektore vanuit die SAPD en privaatbesighede kragte laat saamspan om dié vermeende stropers vas te trek. Een van die plaas se bestuurders, mnr. Monty van Niekerk, het Woensdag telefonies vertel van die deurbraak.

Vier stelle verdagte voetspore is opgemerk waar dit die plaas binnegekom het. Dit was nie lank nie of daar was helikopters in die lug en genoeg spoorsnyers. Selfs die hulp van die Limpopo honde-eenheid is ingekry om te help met die soektog.

Kort voor lank, op Woensdag 21 Mei, is twee van die voetspore se eienaars vasgetrek. Van Niekerk het ook bevestig dat sy soekspan ‘n jaggeweer gekry het wat op die plaas begrawe was. Saam met die geweer was daar ook heelwat lewendige ammunisie.

Provinsiale kommunikasiewoordvoerder, kol. Ronél Otto het Dinsdag bevestig dat die polisie die mans in aanhouding het en buiten vir die vuurwapen, ook beslag gelê het op byle en ‘n voertuig wat glo in hul besit gevind is.

Die twee verdagtes, Prince Talani Maluleke (29) en Hangwani Vincent Ramboho (25), het verlede Vrydag vlugtig in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn. Verdere polisie-ondersoeke het gelei tot die arrestasie van ‘n derde verdagte, Ronald Munzhelele (40), wat Maandag ook in die plaaslike Distrikshof verskyn het.

Otto het bevestig dat al drie mans nog in aanhouding is en weer op 2 Junie in die hof sal verskyn, waar hulle na verwagting ‘n borgaansoek sal bring. Die aanklagte teen die drie sal dan ook geformuleer wees en formeel teen hulle gestel word.

Alhoewel die arrestasies wyd verwelkom is, is dit lank nog die einde van die stryd vir Van Niekerk en sy span nie. Hy het Woensdag bevestig dat hulle warm op die spoor is van ‘n nuwe bende wat die plaas betree het. “Dis ‘n stryd wat net nie ophou nie,” het Van Niekerk gesê. Hy was juis, tydens die koerant se oproep, op pad uit om die soektog na die verdagtes te hervat.

Eckland Safari’s is een van ‘n handjievol plase in die Soutpansberg-streek wat ook al hul renosters laat behandel het met ‘n spesiale kleurryke gif om hulle te beskerm teen stropers. Dié feit word wyd verkondig op al hul grensdrade. Van Niekerk het bevestig dat daar ook renosters op die plaas is wat onthoring word. “Mens probeer maar, maar die stropers gee nie om oor die gif in die renosterhorings nie, en sal ‘n renoster skiet al is sy nuwe uitgegroeide horing nog net ‘n stompie,” het hy gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines