ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Skool tree op teen Facebook “haatblad”

 

News  Date: 05 June 2014

 

Hoërskool Louis Trichardt was genoop om op te tree teen ‘n groep kinders wat deur middel van ‘n “haatblad” op Facebook mede-leerlinge geboelie het.

“Ons keur so iets ten sterkste af en die voorval is deur pastoor Marcel van Niekerk, geestelike werker by die skool, ondersoek. Ons vra ook dat ouers hulle kinders se Internetgebruik sal dophou,” het die skool se waarnemende hoof, mnr. Theo Muller, Maandag gesê. Die blad is deur die leerlinge self geadministreer.

Van Niekerk het lang gesprekke met die betrokke kinders gevoer. “Die kinders het nie op die skool se Facebook-blad geboelie nie, maar in hul private hoedanigheid. Ons het die geval hanteer en die hele situasie het nou doodgeloop. Die polisie het ons aangeraai om nie die saak verder te voer nie,” het Van Niekerk gesê.

Ouers is op 22 Mei deur middel van die skool se kommunikatorbladsy aangaande die “haatblad” ingelig en versoek om die artikel oor kuberteistering wat daar opgelaai is, te lees en hulself op hoogte van dié verskynsel te bring.

Volgens Kinderlyn Suid-Afrika is kuberteistering die gebruik van die Internet en elektroniese kommunikasiemedia om ‘n ander persoon seer te maak of kwaad aan te doen deur afknouery, dreigemente of vernedering. Baie kinders het toegang tot die Internet deur middel van hulle selfone en kan dus enige tyd van die dag geteister word deur ‘n kuberboelie. Ouers behoort aan beide moontlikhede te dink, naamlik dat hulle kind die slagoffer van kuberteistering kan wees of dat hulle kind die kuberboelie kan wees. Seuns was altyd meer daarvoor bekend dat hulle ander fisies boelie, maar daar is heelwat meisies wat hulle tot kuberafknouery wend.

‘n Studie deur UNISA in 2012 waarby meer as 3 300 leerders betrokke was, het getoon dat 34% van die leerders in die voorafgaande twee jaar slagoffers van kuberafknouery was. By Graad 8 leerders was die persentasie die hoogste (42%). Die meeste tieners is deur ander tieners geboelie (60%). Van die leerders in die studie het 23% erken dat hulle al iemand afgeknou het, meestal deur SMS’e en die sosiale media. Met die groot toename in slimfone kan daarop gereken word dat die persentasies steeds verhoog.

Me. Stienie Fourie van Makhado (Louis Trichardt), wat voorheen ‘n navorsingstuk oor die onderwerp uitgewerk het, het gesê dat kuberafknouery op sosiale netwerke kinders baie negatief beïnvloed, veral omdat dit vir almal sigbaar is. Die slagoffer moet hulp kry, want hy of sy kan geïntimideer wees, emosionele probleme ervaar en fisies siek word of selfs selfmoord pleeg.

“Die kuberboelie moet ook hanteer word, want daar is altyd ‘n storie agter die storie. Die probleem wat aanleiding gee tot die wangedrag, soos ‘n gebrek aan aandag, 'n swak selfbeeld en ander emosionele probleme, moet aangespreek word,” het Fourie gesê.

Ouers kan hulle kinders help deur die kind se aanlyn toegang tot die Internet vir eers weg te neem om die skade wat reeds gedoen is, te beperk.  Wanneer ‘n kind buite die situasie staan, raak dit makliker om die nodige stap te neem om die boelie te blokkeer of te skrap van die sosiale media of selfoon en te rapporteer. Ouers en kinders word aangeraai om hulle nie aanlyn te probeer verdedig nie, aangesien dit telkens net nog vet op die vuur van ‘n boelie is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines