

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 March 2002
Mnr. Johan Willemse, provinsiale leier van die Vryheidsfront, het die afgelope week in ‘n sterk bewoorde verklaring ten opsigte van die naamsveranderinge, ook uitgevaar teen die burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, rdl. Brighton Tlakula.
Willemse het met betrekking tot Tlakula se aankondiging om ook drie straatname in Louis Trichardt se sake- en woongebiede te verander, gesê dat Tlakula besig is om te krap waar dit nie jeuk nie. Hy sê dié besluit is gemaak sonder enige oorlegpleging met inwoners en sonder dat daar gekyk is na die koste-implikasies van adresveranderinge. Hy het ook gevra wie vir die koste van dié veranderings verantwoordelik sal wees.
Volgens Willemse word die Afrikaners van die Noorde se menseregte weereens misken en word hulle blootgestel aan die verwronge toepassing van Artikel 33 van die Grondwet, soos vertolk deur die ANC. Hy sê dat administratiewe optrede wat regmatig en billik is, skynbaar nie geld vir die meerderheid belastingpligtiges en inwoners van bepaalde woongebiede nie.
Willemse sê dat in ’n blatante aanslag op die Afrikaner se bestaansreg, daar voortgegaan word om al die dorpe en stede in die provinsie met Afrikaanse name, teen die wil van die inwoners, van nuwe name te voorsien. Hy het afgesluit deur te sê dat kortsigtigheid, finansiële onvermoë, outokratiese optredes en die opset om gevoelens op loop te jaag skynbaar die ANC in die Noorde se enigste bekwaamheid is.

ADVERTISEMENT:
