

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2002
LOUIS TRICHARDT – Die twintigjarige Mimi le Roux, dogter van Boet le Roux van Mollevel Voerkrale, is Maandag in 'n kritieke toestand opgeneem in die privaathospitaal in Pietersburg na 'n ernstige motorongeluk op die Waterpoortpad.
Die ongeluk het omstreeks 07:00 plaasgevind, kort nadat Mimi na Louis Trichardt vertrek het om 'n studentemaat op te laai wat saam met haar terug sou ry na Johannesburg. Sy is tans 'n derde jaar B.Com (Rek) student by die Randse Afrikaanse Universiteit. Sy het in 1999 by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer.
Niemand weet presies wat gebeur het nie. Mimi se voertuig het op 'n draai die pad verlaat, waarna dit anderkant 'n wildwerende heining te lande gekom het. 'n Vrou van Waterpoort het later op die ongelukstoneel afgekom, waarna 'n ambulans ontbied is. Sy is egter per helikopter na die privaathospitaal in Pietersburg afgevoer, waar sy met ernstige hoof- en moontlike rugbeserings in die intensiewe eenheid opgeneem is. Kort na haar aankoms het sy 'n drie uur lange operasie ondergaan. Die aard van haar besering het onder meer ingesluit skedelbreuk, 'n beskadigde breinvlies, gebreekte wangbene en moontlike rugbeserings.
Teen druktyd was Mimi steeds aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel in die intensiewe eenheid van die hospitaal. Volgens haar pa beskou dokters haar toestand steeds as ernstig, maar stabiel. Alhoewel sy soms ten dele by haar bewussyn is, kon sy egter nog geensins met haar familie kommunikeer nie. Sy kan ook glad nie sien nie, vanweë die swelling in haar gesig. Vog word ook deur middel van 'n pyp vanaf haar brein dreineer.

ADVERTISEMENT:
