

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2002
LOUIS TRICHARDT - Vanuit 'n suiwer ekonomiese oogpunt is dit totaal onaanvaarbaar om in 'n streek soos die Noordelike Provinsie 'n gevestigde dorpsnaam teen enorme koste te verander, sê die Soutpansberg Sakekamer.
Die Sakekamer beklemtoon dat Louis Trichardt se dorpsnaam nie aan die apartheidsklok gehang kan word nie, omdat die naam uit die Voortrekkertydperk kom en dus niks met apartheid te doen het nie.
In 'n mediavrystelling beklemtoon die Sakekamer dat hy 'n a-politieke organisasie is in 'n provinsie en streek met die laagste per kapita inkomste, gebrandmerk as die "armste" streek, met die hoogste bevolking en ook 'n werkloosheidsyfer wat voortdurend styg.
"Hierdie streek kan die belastingbetaler se fondse op verskeie ander gebiede, waar die nood en behoeftes so groot is, meer doeltreffend aanwend."
Die Sakekamer sê die owerheid behoort die beraamde koste-implikasie van so 'n verandering openbaar te maak, as daar so 'n studie gedoen is. As die besluit geneem word sonder so 'n studie sal dit uiteraard uiters onverantwoordelik wees.
"Die sosio-ekonomiese impak wat die naamsverandering op die breë besigheids- en toerismesektor sal hê moet nie net in ag geneem word nie, maar moet ook opgeweeg word teenoor die alternatiewe aanwending van sulke fondse, byvoorbeeld vir opheffingswerk in agtergeblewe gebiede, behuising, werkskepping, die effektiewe behandeling van HIV en die aanveg van korrupsie, wat volgens inligting onder die owerhede floreer en verdere ondersoeke verg.
"Naamsveranderinge is kosmeties, voeg geen waarde toe nie en is dikwels net daarop afgestem om 'n bepaalde individu se ego te streel en die kiesers wys te maak dat hulle iets bereik het, terwyl wesentlike probleme nooit aangespreek is nie. Dit versteur egter die harmonie onder kultuurgroepe en is glad nie op aandrang van die mense nie.
"Die geskiedenis van 'n land kan nooit deur kosmetiese veranderings herskryf word nie, maar moet as lesse gebruik word om waarde toe te voeg tot die toekoms deurdat 'n beter toekoms beplan word sonder om gemeenskappe te verdeel en kultuurgroepe van mekaar te vervreem."
Die Sakekamer sê die verdelende faktore van die verlede moet as lesse gebruik word om eendrag in die toekoms te bewerkstellig. Blote kosmetiese verandering is 'n verkwisting van geld en ook op kultuurgebied nadelig vir die gemeenskap.
"So 'n emosioneel belaaide aangeleentheid behoort nie so lukraak en ligtelik benader te word nie," lui die verklaring.
Die Sakekamer wys daarop dat miljoene rand internasionaal bestee is om Louis Trichardt ten opsigte van toerisme te bemark. Die naam kan daarom nie summier net verander word nie, aangesien dit jare sal neem om weer die naam internasionaal bekend te maak.
Die Sakekamer het onderneem om met die Owerhede te beraadslaag om 'n alternatiewe oplossing te ondersoek en sodoende die hele gemeenskap se belange te bevorder.

ADVERTISEMENT:
