ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

“Reddingspoging” kos man duisende

 

News  Date: 19 June 2014

 

Pasop - jou goeie bedoelings kan jou beursie dalk 'n lelike knou toedien.

Dit is die nare ervaring wat ‘n inwoner en besigheidsman van Makhado (Louis Trichardt), wat graag anoniem wil bly, verlede week gehad het toe hy iemand wat hy gedink het in ‘n penarie is, wou help. Die uiteinde was dat hy duisende rande moes afstaan aan twee gladdebek bedrieërs wat hom telefonies ‘n rat voor die oë gedraai het.

Die besigheidsman het verlede week ‘n oproep gekry van ‘n man wat hom voorgedoen het as ‘n sakekennis. Hy het gepleit om hulp, want hy was sogenaamd deur die Makhado Polisie gearresteer en sou die besigheidsman hom asseblief kon help, sou hy elke sent terugbetaal.

Sonder om onraad te vermoed het die sakeman ingestem om te help -  hy het gemeen die kennis gaan seker R1 000, op die meeste, vra om te leen.

Toe nie. Altesaam het die besigheidsman R5 000 verloor.

Die bedrieër se storie was dat hy gevang is, maar vrygelaat sou word indien hy die polisie omkoop met selfoonlugtyd. Hy het ‘n beroep gedoen op die sakeman om vir hom lugtydbewyse te koop, en die kodes aan te stuur met ‘n SMS.

Omdat daar, in daardie stadium, ‘n vrou op die lyn gekom het wat haarself as ‘n polisiekaptein voorgestel het, het die sakeman nog nie onraad vermoed nie. Die “polisiekaptein” het gesê hulle gaan die man toesluit as hulle nie die lugtydkodes vinnig genoeg kry nie. So gesê, so gedaan, en terwyl die “beskuldigde” aangehou het, het die sakeman lugtyd gekoop op sy kredietkaart.

Hy het egter begin snuf in die neus kry toe daar meer versoeke gekom het vir nóg lugtyd – nogals van al die verskillende netwerkverskaffers.

Elke keer as die sakeman ‘n lugtydkode aangestuur het, het die “beskuldigde” gevra vir nog, en begin huil as die sakeman geweier het. By die R5 000-kerf het die sakeman halt geroep en die man gevra om te wag by die polisiestasie sodat hy hom kon gaan haal. Hierop het die “polisekaptein” op die lyn gekom en glo gesê hulle sal nou die man vrylaat en hom kom aflaai by die sakeman se besigheidsperseel, sodat hy hom die verskuldigde geld kan terugbetaal.

Die sakeman wag nou nog.

‘n Poging deur die sakeman om sy kredietkaarttransaksies te stop was onsuksesvol. Die raad wat hy vanuit die regte polisiegeledere gekry het, was om die verlies te absorbeer en aan te beweeg. Hy het ook die regte sakevennoot gebel, en dié het ontken dat dit hy was wat vir hulp gebel het.

Die Makhado Polisiestasie is genader vir kommentaar en attent gemaak daarop dat daar ‘n persoon of persone is wat hulle voordoen as polisiemaglede om die publiek skade aan te doen. Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Takalani Madzhigili het hierdie week bevestig dat daar nie veel is wat hulle op die oomblik kan doen nie, aangesien daar nie ‘n klag by die stasie ingedien is nie.

Hy het ook bygevoeg dat die polisie nie bewus is van enige ander soortgelyke gevalle nie.

Intussen het die Zoutpansberger verneem dat daar Dinsdag ‘n man in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn het wat daarvan beskuldig word dat hy homself as ‘n polisieoffisier voorgedoen het. Die 34-jarige Emmanuel Radzilani het glo gemaak asof hy polisieman is, en R3 000 van iemand as betaling ontvang om die persoon by te staan met ‘n bestuurderslisensie-aansoek.

Hy sal weer op 11 Julie in die hof moet verskyn, waarna sy verhoor na verwagting ‘n aanvang sal neem.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines