ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

SBBV wil verder baklei teen nuwe waardasierol

 

News  Date: 20 June 2014

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) gaan die Makhado munisipale bestuurder se hulp inroep by die komitee wat oor die waardasierol moet vergader.

“Ons het versoek dat mnr. Sakkie Mutshinyali [munisipale bestuurder] die komiteevergadering persoonlik moet kom lei, aangesien ons iemand met meer insig en beter menseverhoudinge benodig,” het die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, verlede week gesê. Die SBBV het op 12 Mei uit die eerste komiteevergadering gestap nadat die voorsittende direkteur van beplanning en ontwikkeling, me. Dakalo Sinthumule, hulle nie kans wou gee om oor die ooglopende foute op die waardasierol as geheel te praat nie.

“Na ‘n gesprek met die munisipale bestuurder, gaan ons weer die vergadering bywoon. Ons gaan versoek dat die implementering van die rol uitgestel word en die probleme met die rol eers onder die knie gekry word. Die verhoging in waardasies en in die tarief is onaanvaarbaar en onbetaalbaar,” het Gilfillan gesê.

Baie beswaarde huiseienaars wonder wat gaan word van die besware wat hulle ingedien het. Baie het groot kostes aangegaan om hulle plekke deur ‘n onafhanklike waardeerder te laat waardeer om dié waardasie by hulle beswaar te kon voeg. Wanneer kry hulle terugvoer van die munisipaliteit? Bitter min mense is deur die munisipaliteit gekontak na afloop van hul besware. Die SBBV weet van twee van hul lede wat gekontak is. Daar is sowat 800 besware by die munisipaliteit ingedien.

“Die SBBV se voorstel is ‘n verhoging van 6% op die vorige waardasierol se waardes en ‘n nuwe tydperk van beswaar, met implementering daarna. Die  verhoging is dan op inflasie gebaseer. Ons beskou so ‘n oplossing as ‘n wen-wen situasie,” het Gilfillan gesê.

Die SBBV het ‘n brief van die Makhado Munisipaliteit ontvang wat bevestig dat die nuwe heffings op 1 Julie geïmplementeer word. Die brief sê dat die maksimum toelaatbare rente gehef sal word vanaf die eerste dag van die maand wat volg op die maand waarin die rekening betaalbaar is. Die SBBV het in ‘n skrywe beswaar gemaak teen die heffing van rente vanaf die eerste van ‘n maand, aangesien die rekening betaalbaar is teen die 7de van ‘n maand.

Die munisipaliteit het hulle vasstelling van tariewe vir die 2014/15 finansiële jaar wat op 1 Julie in werking tree, amptelik op 6 Junie afgekondig, met ‘n beswaartydperk van 21 dae. Die algemene tariewe soos die heffing vir vullisverwydering, lisensiefooie, bouplanfooie, begrafplaasfooie en diesulkes word met 5.4% verhoog, terwyl elektrisiteit met 7.39% verhoog word. Wat eiendomsbelasting betref, is die bestaande heffing in die rand met 5.3% verhoog. Die SBBV het op 10 Junie hul beswaar ingedien teen die eiendomsbelasting verhoging, aangesien die waardes van eiendomme in die nuwe waardasierol met verskillende persentasies verhoog is sodat die werklike verhoging op die rekening “onbekostigbaar en meer as die inflasiestyging” is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines