ADVERTISEMENT:

 

AfriForum tree toe tot die waardasierol-stryd en nooi almal wat beswaar aangeteken het teen die waardasie van hul eiendomme om op Donderdag, 26 Junie, om 18:00 by die Soutpansberg Gholfklub te vergader waar mnr. Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, waardevolle leiding aan die inwoners in hierdie saak sal gee en hulle vrae sal beantwoord.

AfriForum wil Raad pak oor waardasierol

 

News  Date: 26 June 2014

 

Burgerregte organisasie AfriForum tree toe tot die inwoners van Makhado (Louis Trichardt) se stryd teen die nuwe munisipale waardasie van hul eiendomme wat hul eiendomsbelasting sal bepaal vir die volgende vyf jaar.

Die Makhado Munisipaliteit het sowat 800 besware ontvang en die oorgrote meerderheid van dié eienaars se besware is nie gehandhaaf nie.

AfriForum nooi almal wat beswaar aangeteken het teen die waardasie van hul eiendomme om op Donderdag, 26 Junie, om 18:00 by die Soutpansberg Gholfklub te vergader waar mnr. Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, waardevolle leiding aan die inwoners in hierdie saak sal gee en hulle vrae sal beantwoord.

“Die munisipaliteit stuur tans skrywes uit aan lede van die gemeenskap wat besware ingedien het teen hul waardasie. Elke persoon wat ? beswaar ingedien het, kry die geleentheid om redes te versoek en verder appèl aan te teken indien hulle nie gelukkig is met hul waardasie nie. Dit vorm deel van die waardasieproses en dit sal onregmatig wees om ‘n nuwe waardasierol op iemand af te dwing wat juis die waardasie in dispuut plaas,” het Mostert in ‘n persverklaring op 24 Junie gesê.

In die briewe aan die gemeenskap waarin die munisipaliteit aandui dat die beswaar nie gehandhaaf is nie, noem die munisipaliteit twee prosesse. Die eerste een is dat inwoners redes kan versoek waarom hul beswaar nie gehandhaaf is nie. Dit is volgens die munisipale eiendomsbelastingwet (MPRA 53(2)). “Dit is belangrik om redes vir afkeuring van die beswaar by die munisipaliteit aan te vra juis om ‘n beter saak te kan bou vir die appèlproses,” sê mnr. Wally Schultz, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak.  Daarna kan ‘n appèl by die appèlraad aanhangig gemaak word  ingevolge artikel 54(2) van die munisipale eiendomsbelasting wet (MPRA). ‘n Inwoner sou ook direk sy appèl aanhangig kon maak.

Mostert sê dat inwoners van munisipale wetgewing gebruik moet maak om hul regte te beskerm, indien die munisipaliteit hulle wil belas op 'n waardasie wat nog in dispuut is. AfriForum het ‘n brief aan die munisipale bestuurder gerig om te sê dat hul lede wie se besware nog nie afgehandel is nie aangeraai sal word om volgens die ou waardasierol te betaal totdat hul dispuut afgehandel is. Dit sou slegs geld vir die eienaars wat reeds in die beswaartydperk voor einde April hul besware ingedien het en wil appelleer teen die afkeuring van hul beswaar.

“Dit is nie ons doel om ‘n hofbevel te verkry wat ‘n munisipaliteit finansieel sou afskryf nie. Ons wil dit duidelik aan hulle stel dat hulle met ‘n proses begin het en dat daardie proses nog nie afgehandel is nie. Die heffing van die nuwe eiendomsbelasting vir diegene wat nog met die appèlproses besig is sal volgens afdeling 102 (2) van die munisipale stelselswet teëgestaan word,” het Mostert aan die Zoutpansberger gesê.

In die munisipale skrywes aan eienaars wat beswaar gemaak het, is melding gemaak van ‘n fooi wat betaalbaar is as redes versoek word. Die munisipaliteit kon hierdie week geen verklaring vir die “fooi” gee nie, maar het bevestig dat daar nie tans ‘n fooi van toepassing is wanneer die appèlvorm ingehandig word nie. Die sluitingsdatum vir die appèlvorm word tans op ongeveer 10 Julie gereken. Wanneer redes versoek is, is die sluitingsdatum 21 dae nadat die redes gestuur is. 

AfriForum word allerweë beskou as dié organisasie wat die regsvermoë het om sake rondom burgerregte suksesvol deur te voer. “Ons gaan die eerste fase van ons ledetalwerwing kombineer met die waardasievergadering van 26 Junie en ledevorms sal by die deure beskikbaar wees,” het AfriForum gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines