ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

“Hulle belas ons uit ons eiendomme uit” - SBBV

 

News  Date: 27 June 2014

 

“Hulle belas ons uit ons eiendomme uit!” was die opmerking van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) na afloop van die tweede waardasie komiteevergadering wat met die Makhado Munisipaliteit gehou is rakende die nuwe waardasierol vir 2014 tot 2018.

“Die munisipaliteit verhoog die sent-in-die-randwaarde met ongeveer 6% en dan ook die eiendomswaarde op die waardasierol. Dit is ‘n effektiewe verhoging van enige iets vanaf 20% tot 90%. Dit is uitbuiting tot in die tiende graad!” het SBBV voorsitter Inga Gilfillan op 23 Junie gesê.

Die SBBV se versoek aan die vergadering, met die munisipale bestuurder mnr. Sakkie Mutshinyali as voorsitter, het op dowe ore geval. “Hulle het op die agtervoet gestaan en na geen rede geluister wat uitstel aanbetref nie. My woorde aan die vergadering was ‘hierdie kan die SBBV nie so aanvaar nie’,” het Gilfillan gesê.

Media navrae aan die munisipaliteit in verband met die waardasierol was teen druktyd onbeantwoord.

Intussen sit die SBBV kantoor met bekommerde mense wat briewe ontvang het dat hulle besware teen die waardasie van hulle eiendomme nie gehandhaaf is nie. “Die 30 dae tyd wat daar vir hulle gelaat is om te appelleer is nie genoeg nie, aangesien die briewe eers hier by 23 Junie, sowat twee weke na die datum op die brief, afgelewer is,” het Gilfillan gesê en op 24 Junie per hand ‘n brief laat aflewer aan die munisipaliteit om ‘n verlenging van die appelleringstyd tot 23 Julie te vra.

Me. Jana Smith, met meer as 30 jaar ondervinding in die eiendomsbedryf, sê dat die waardeerders hulself op hoogte moes gebring het van die groei in eiendomme se waardasies gedurende die laaste vyf jaar. “Indien hulle hul daarvan sou vergewis het, sou hulle gevind het dat die markwaardes gedurende 2009 tot 2012 ‘n negatiewe groei beleef het en vir die laaste twee jaar ‘n groei van ongeveer 3.7% landswyd in die gemiddelde R900 000 tot R1m prysklas. As ‘n mens die negatiewe groei en die positiewe groei van slegs 3.7% in gedagte hou, dan moes die waardes eintlik dieselfde gebly het,” het Smith gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines