

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 June 2014
“Ohooo, vandag is jy in groot moeilikheid …”
Só het die Louis Trichardt Distrikslanddros, me. Marcelle Pieterse, vir Thabelo Rini (20) gesê toe hy Maandag voor haar verskyn het op ‘n klag van diefstal uit ‘n voertuig.
Rini het verlede Vrydag eerder ‘n paar vet klappe as ‘n vet beursie gekry. Dit nadat hy onwetend na bewering die beursie van ‘n kollega van Pieterse, streekhofaanklaer me. Hillke Janse van Rensburg, gesteel het.
Janse van Rensburg het verlede Vrydag gou by ‘n winkel ingeloer naby die hoek van Songozwi- en Krugerstraat. Sy het niks gekoop nie, en was terug in haar voertuig op pad om te ry toe ‘n man aan die venster klop en sê: “Mevrou, iemand het nou net jou beursie gesteel.” Haar handsak was nog in die voertuig, en die vensters was ook nie uitgeslaan nie.
“Nee, jy maak ‘n fout, my beursie is nie gesteel nie, alles is nog reg hier,” het Janse van Rensburg met die man gestry. Die man het egter daarop aangedring dat hy die diefstal gesien het. Hy het 'n ander man uitgewys wat hy glo gesien het die beursie uit die motor vat. “Jinne, en toe ek in my handsak kyk, sien ek dat my beursie wel weg is!” sê Janse van Rensburg.
Omstanders het die gesprek gehoor, en toe sommer self opgetree.
“Moenie worry nie, mevrou !” is al wat die omstanders vir Janse van Rensburg gesê het, voordat hulle soos een man die verdagte agterna gesit het. Dié verdagte, sou dit later aan die lig kom, was Rini. Hy is aangekeer. Soos wat die omstanders hom teruggesleep het na Janse van Rensburg toe, het hulle hom behoorlik gefoeter. “Hulle het hom so aan sy polse vasgedruk, met sy een hand so vorentoe uitgehou, waarin hy my beursie gehad het,” het Janse van Rensburg beduie.
Toe sy sê dit is haar beursie, het die jillende skare éérs onder die man ingeklim.
Intussen het Janse van Rensburg, omring deur ‘n skare mense, haar beursie oopgemaak om ‘n beloning uit te haal vir die ooggetuie. “Al wat hierdie ou, wat alles sien gebeur het gedoen het, was om vir die mob te skreeu: ‘Hei, hy het haar geld ook gesteel!’” sê Janse van Rensburg.
Hierop het ‘n hernude uitdeel van pakslae aan Rini gevolg, en Janse van Rensburg was genoop om die polisie se hulp te ontbied. Iemand moes die arme man van die ontstoke skare red.
Terwyl daar op die polisie gewag is, kon Rini daarin slaag om los te kom en het vir die vale gehardloop. Sy ontsnappingspoging was egter van korte duur, want die skare het sommer self aangebied om die verdagte aan die polisie te gaan uitwys met hul aankoms op die toneel. “Hulle het sommer agter op die polisiebakkie gespring,” het Janse van Rensburg gesê.
Met haar beursie terug, het sy besluit om die saak in die polisie se bekwame hande te los en ‘n koppie soet boeretroos vir die senuwees te kry. Nog voor sy by die huis kon kom, het die polisie vir Rini gevang en haar geskakel om ‘n uitkenning te maak. Sy kon net bevestig dat Rini die man was wat die skare gevang het, maar die ooggetuie wat alles sien gebeur het, was die spreekwoordelike spyker in Rini se doodskis.
Rini het Maandag in die hof verskyn, maar sy saak is uitgestel tot 11 Julie vir verhoor. Die hof wou niks weet van ‘n pleitooreenkoms nie. Rini het verlede maand voor dieselfde hof op dieselfde klag verskyn, waarop hy skuldig gepleit het en ‘n boetevonnis ontvang het. Die polisie se ondersoek het ook aan die lig gebring dat hy eers ‘n vals naam, Malulu Sadiki, opgegee het, en dat hy al twee keer vantevore vasgetrek is op soortgelyke klagte.
Die ooggetuie het aan Janse van Rensburg en die polisie gesê dat Rini vermoedelik deel is van ‘n seweman bende wat in daardie omgewing mense besteel. Een dief werk met ‘n afstandbeheer wat verhoed dat ‘n voertuig sluit wanneer dit geparkeer word. Sodra ‘n motoris loop en nie seker maak dat sy of haar voertuig wel gesluit is nie, sal ‘n tweede lid van die bende die deur oopmaak en alle waardevolle besittings steel. Dit sal hy dan aangee na ‘n derde bendelid, wat dit weer oorhandig aan die ander lede, sodat daar ‘n ontsnaproete is as daar moeilikheid kom. In Janse van Rensburg se geval is haar beursie vermoedelik deur een dief leeggemaak en vir Rini gegee, sodat hy dit kon weggooi.
Inwoners is derhalwe gevra om versigtig te wees as hulle voortaan in die sentrale sakegebied gaan inkopies doen. Die dag voor Janse van Rensburg beroof is, is 'n vriendin se dogter haar selfoon kwyt in 'n soortgelyke insident. Me. Elizma Pohl het vandeesweek bevestig dat haar dogter, Jenika, saam met pa Naas in die dorp was en haar selfoon in die bakkie gelos het. Die selfoon was weg met hulle terugkoms.
Pohl en Janse van Rensburg se raad was om seker te maak jou voertuig is gesluit, want die bendes mors nie tyd nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
