ADVERTISEMENT:

 

Gereed vir alle noodgevalle ...

 

News  Date: 24 December 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Alhoewel die meeste van die dorp se inwoners uitsien na ‘n rustige Kersgety en samesyn met hul vriende en familie, is daar tog mense vir wie dit nie beskore is nie.

Talle inwoners gaan die feesseisoen op hul pos wees om dienste aan die gemeenskap te lewer.

Volgens MJ Ramalato, Leier Brandweerman by die plaaslike munisipale brandweerstasie, gaan al ses personeellede en drie voertuie van die brandweerstasie tydens die Kerstyd op bystand wees.

“Ons werk 24 uur per dag, sewe dae ‘n week en Kerstyd is geen uitsondering nie,” sê hy.

“Ons sal in Januarie verlof kry, maar oor die feestyd is ons ernstig besig om te werk.”

Die brandweerpersoneel sal, soos altyd, op bystand wees vir enige noodgeval in die Makhado Munisipaliteit, maar hulle sal die komende twee weke ook deel vorm van die gesamentlike operasiesentrum wat oorkant Ons Tuiste Ouetehuis op die N1/Songozwistraat-kruising gestasioneer sal wees.

“Ons nooi alle vermoeide motoriste uit om by die sentrum te stop en ‘n koppie koffie of koeldrank te geniet,” sê Ramalato. “Elke motoris wat sy bestemming veilig bereik maak ons bly.”

Die personeel verbonde aan die Louis Trichardt Gedenkhospitaal is ook oorgehaal om die Kersfees seepgladde diens aan die gemeenskap beskikbaar te stel. Die hoof uitvoerende beampte van die hospitaal, mnr. Godfrey Tshimauswu, sê dat verskeie tussentydse maatreëls getref is om te verseker dat hoë gehalte mediese dienste oor die feesseisoen gelewer word. “Inwoners hoef nie te vrees dat die hospitaal oor die vakansietyd oorweldig sal word nie,” sê Tshimauswu. “Die hospitaal is 24 uur per dag oop vir alle noodgevalle.”

Van die maatreëls wat die hospitaal getref het, is om al die verpleegpersoneel te verplig om tot na Nuwejaar aan diens te wees. “Omdat hierdie die besigste tyd van die jaar is, kry niemand behalwe ‘n paar administratiewe personeel verlof nie,” sê Tshimauswu. Daar moet ook uurliks terugvoer gegee word aan die provinsiale kantoor van die Departement van Gesondheid. Om die vervoer van pasiënte te vergemaklik, het die hospitaal ook verskeie ekstra ambulanse aangevra.

Daar is natuurlik altyd die Kers- en Nuwejaarsbabas wat jaarliks hul opwagting maak.

“Ons is reg vir hulle,” sê Tshimauswu. “Daar sal heeltyd spesialiste aan diens wees wat met geboortes en ander gevalle sal bystaan.”

Dit is nie net die nooddienste wat moet regstaan tydens die feestyd nie. Gasvryheidsinstansies soos die Bergwater Hotel moet ook bontstaan om te verseker dat al die vakansiegangers blyplek het. Volgens mev. Tina Niemann is Kerstyd in Louis Trichardt normaalweg stil.

“Hierdie jaar is egter buitengewoon besig,” sê sy. “Die afgelope week was daar by tye nie genoeg sitplek in die restaurant vir mense wat middagete wou kom eet nie.”

Tydens die Kersseisoen gaan al die personeel op diens moet wees. Vincent Shiburi, kelner in die Bergwater Restaurant, sê dat hy die vier dae voor Kersfees verlof gaan neem.

“Ek gaan die tyd saam met my familie deurbring en sommer nou al Kersfees vier, omdat ek Kersdag weer moet werk.” Al die personeel ontvang gelukkig oortydbetaling vir die werk wat hulle tussen Kersdag en Nuwejaar moet doen.

Omdat motoriste nêrens sonder brandstof sal kom nie, is petroljoggies ook voltyds aan diens. John Malotsha, toesighouer van Werda Motors se petroljoggies, sê dat hy elke dag tydens Kerstyd gaan werk.

“Ek gaan eers in April weer leave kry,” sê hy. Hy gaan darem Sondag verlof hê en gaan Kersfees dan saam met sy gesin vier. Hy verwag ook ‘n vakansiebonus vir sy Kersarbeid.

“Ek kla nie oor die werk nie, dit is lekker om mense te help,” sê hy.

 

Written by

Hannes Lee

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines