

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Persone wat versuim het om hul uitstaande boetekaartjies ten opsigte van verkeersoortredings te betaal, kan moontlik arrestasie in die gesig staar.
Die munisipale verkeersafdeling is tans besig met die invordering van uitstaande boetekaartjies, asook die uitvoering van lasbriewe van arrestasie. Dit behels dat persone wat versuim om boetekaartjies te betaal en vir wie daar reeds lasbriewe uitgereik is, arrestasie in die gesig staar indien hulle nie onmiddellik betaal nie. Lasbriewe van arrestasie is reeds in 300 gevalle uitgereik, waarvan sowat ‘n derde reeds uitgevoer en ingevorder is.
Volgens mnr. Nico Theunissen van die munisipale verkeersafdeling, is die verskerpte optrede teweeg gebring vanweë verkeersoortreders se laksheid om boetekaartjies te betaal en hul beskouing van boetekaartjies as ‘n onbenulligheid.
“Daar is reeds ‘n paar mense wat hulle lelik misgis het as gevolg van hierdie houding. Dit staan die publiek vry om my of Laas te skakel by die munisipale verkeersafdeling indien hulle vermoed hulle het uitstaande boetekaartjies,” sê mnr. Theunissen. Hy het bygevoeg dat die operasie sal duur tot alle uitstaande lasbriewe uitgevoer is.
Intussen het mnr. Theunissen sy dank uitgespreek teenoor plaaslike bestuurders vir hul bedagsame padgebruik sedert die begin van Desember. Hy sê dat, sedert 1 Desember, was daar nog geen ernstige ongelukke op die streek se paaie nie. Hy verwag egter dat die situasie sal verander namate verkeersvolumes begin toeneem vanaf hierdie week.

ADVERTISEMENT:
