ADVERTISEMENT:

 

Die gras in die munisipale begraafplaas in Makhado (Louis Trichardt) is verlede week gesny soos regs in die foto gesien kan word. Gelukkig groei die gras stadig in die winter en kan daar vir 'n ruk begrafnisse gehou word sonder dat daar deur die lang gras gebeur hoef te word.

Wil ‘n mens nog vir ewig hier rus?

 

News  Date: 04 July 2014

 

Die tariewe om ‘n graf in die Makhado (Louis Trichardt) munisipale begraafplaas te koop, gaan met 5.4% op, saam met al die ander verhogings.

Dit word al ‘n duur storie om in die munisipale begrafplaas te ruste gelê te word en baie vra die vraag: Is die omstandighede daar nog so dat ‘n mens daar wil begrawe word?

Mnr. Piet Bezuidenhout gaan amper elke tweede dag na die begraafplaas. “Mens moet oor hierdie dinge praat en dit nie vermy nie,” het Bezuidenhout gesê, verwysende na wat met jou moet gebeur na jou afsterwe, of jy begrawe of veras moet word. Hy is hierdie week aangetref by die graf van sy seun, Charl, wat in 2002 op 19-jarige ouderdom dood is ná hy noodlottig gewond is tydens ‘n gewapende roof.

In die begraafplaas was Bezuidenhout besig om die marmerblad van sy seun se graf met sy eie besem en water te was. “Ons kyk maar self hier. Dis jou kind …” het Bezuidenhout gesê. Voordat hulle die marmerblad opgesit het, het hulle eers boompies geplant en tuin gemaak, maar die ape het die boompies verwoes.

“Kyk die grafsteen langsaan. Beeste wat hierdeur loop het dit so verwoes. En daar lê kunsblomme rond, soos wat die mense wat die plek netjies moet hou, sommer daar bo-oor ry en dit verstrooi,” het Bezuidenhout gesê. Grafstene is ook al herhaaldelik beskadig en platgery deur die munisipale tru-grawer. Die gedenkmuur vertoon vuil en verwaarloos.

Een ligpunt is dat die gras die vorige week gesny is. Vir ‘n rukkie kan begrafnisse gehou word sonder om deur die lang gras te worstel. “Ek is so bly dat die gras gesny is, want ons begrawe my ouma hierdie week daar,” het me. Elsie Brandt gesê.

“Die begraafplaas lyk gewoonlik beter in die winter. Die groot probleme is in die somer. Daar was ‘n stadium dat Piet self die bosse in die begraafplaas met ‘n panga afgekap het,” het me. Annette Bezuidenhout gesê en bygevoeg dat hulle in die verlede water kon getap het, maar nou nie meer kan nie. Daar is ook nie meer elektrisiteit beskikbaar sodat hulle ‘n grassnyer kan bring nie.

‘n Sementpalisade is rondom die begraafplaas opgerig en vertoon baie netjies, maar die hekke staan oop, tensy ‘n besoeker aan die begraafplaas die hek spesiaal met die hand gaan toestoot. Geen spoor van enige iemand wat toesig hou of die sekuriteit behartig, is te vinde nie. Die huisie in die middel van die terrein is geplunder en die nuwe sekuriteitshuisie by die hek is verlate, kaal en sonder deur.  “Ek kon altyd ure by ons seun se graf sit, maar ‘n polisievrou het my gewaarsku dat bendes in daardie omgewing opereer,” het Annette gesê.

By navraag het die munisipaliteit gesê dat daar nie sekuriteit by die begraafplaas is nie, maar 'n amptenaar wat moet toesig hou. Die amptenaar is in die hospitaal en die geplunder aan die huisies is ‘n groot probleem. Die probleem van die beeste wat in die begraafplaas ingejaag word, is egter hokgeslaan. DA Raadslid Brian du Plooy het gesê dat die onbevoegdheid van die munisipaliteit om die begraafplaas na behore te onderhou, onaanvaarbaar is.

Met die nuwe tariewe kos die koop of reservering van ‘n enkelgraf R420 vir ‘n volwassene wat ‘n inwoner van die dorp is en R837 vir ‘n volwassene wat nie ‘n inwoner is nie. Kindergrafte is goedkoper. By die koste van die graf, kom ‘n addisionele fooi om die graf oop te grawe en toe te maak. Dié fooi is R355 vir inwoners (R709 vir nie-inwoners). Die koste van ‘n nis in die kolumbarium is R422 (R841).  Dit kos R110 om aansoek te doen om ‘n gedenksteen by ‘n graf op te rig.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines