ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Morné Mostert, AfriForum se Limpopo koördineerder, het aan inwoners van Makhado (Louis Trichardt) gesê dat AfriForum besig om moontlike tenderbedrog te ondersoek en aan inwoners verduidelik dat hulle hul appèlproses korrek en so gou moontlik aan die gang moet kry.

Waardasie-stryd op twee fronte gevoer

 

News  Date: 04 July 2014

 

Inwoners van Makhado (Louis Trichardt) se stryd ten opsigte van die nuwe munisipale waardasierol vir 2014 tot 2018 word op twee fronte gevoer.

Aan die een kant is AfriForum besig om moontlike tenderbedrog te ondersoek en aan die ander kant moet inwoners hulle appèlproses so gou moontlik aan die gang kry.

Sowat 50 inwoners het ‘n vergadering, wat deur plaaslike AfriForum-voorsitter mnr. Wally Schultz gereël is, op 26 Junie by die Soutpansberg Gholfklub bygewoon. “Ons is tans besig met ‘n aksie waar ons moontlike tenderbedrog ondersoek en betrokkenes met moontlike kriminele klagtes kan aanvat,” het mnr. Morné Mostert, AfriForum se Limpopo koördineerder, gesê. Inwoners was baie ongelukkig oor die hele waardasieproses en die moontlike onwettigheid daarvan. Mostert het gesê dat die howe deesdae glad nie geneë is om ‘n hofbevel te gee wat ‘n munisipaliteit of ‘n staatsinstelling finansieel sal doodmaak nie, want dit sou impliseer dat die verwagting van die munisipaliteit om dienste te kan lewer ook verlaag.

Aan die inwoners wat reeds ‘n beswaar teen hulle waardasies ingedien het en briewe ontvang het dat daar geen verandering of ‘n onvoldoende verlaging is, is uitgespel hoe belangrik dit is dat hulle redes van die munisipale waardeerder moet versoek. “Dit help jou om jou saak voor die appèlraad te stel deur op elkeen van hulle redes ‘n antwoord te gee,” het Mostert gesê. Die brief om redes te versoek moet binne 30 dae ingedien wees, voor 10 Julie indien die munisipale brief met die uitslag van die beswaar 10 Junie gedateer is. Die tersaaklike dokumente, soos die oorspronklike beswaar en die munisipale antwoordbrief, moet by die versoek om redes aangeheg word.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit se direkteur van ontwikkeling en beplanning, me. Dakalo Sinthumule, laat weet dat die begin van hierdie proses as 1 Julie geneem sal word, omdat briewe nog afgelewer word. Mostert het gemaan dat daar vir veiligheid liewer volgens die 10 Junie datum gehandel moet word. Die munisipaliteit het ook laat weet dat daar nie ‘n fooi betrokke is soos in hulle brief gemeld was nie. “Die munisipaliteit het maar net die hele artikel 53 (2) aangehaal,” is die rede wat vir hierdie misverstand aangegee word.

Die appèlvorm moet binne 21 dae nadat die redes vir die munisipale waardeerder se besluit ontvang is, ingedien word. Mostert het aangeraai dat ‘n brief by die appèlvorm aangeheg word, wat sê dat redes versoek is en afgewag word en dat die appèl aangevul sal word sodra die redes verkry is. “Daar is nie ‘n vasgestelde tydperk waarbinne die waardeerder redes moet gee nie,” het Mostert gesê.

Mostert het gewaarsku dat die appèlraad die bevoegdheid het om ‘n kostebevel teen ‘n persoon in te stel wat ‘n appèlproses om beuselagtige redes voer. “Kyk na jou eiendom en wees eerlik met jouself oor die waarde daarvan voor jy appelleer,” was Mostert se raad.

Die bespreking was deurgaans lewendig. “As gevolg van die besware het die munisipaliteit baie van die huise weer gaan waardeer. Ek dink toe het hulle net oorstroom geraak met die besware en kon hulle nie meer by almal uitkom nie,” het me. Jana Smith van die Soutpansberg Sakekamer gesê en bygevoeg dat indien die huiseienaar se appèl slaag en hulle waardasie verlaag word, hulle rekening wel gekrediteer sal word vir die tydperk vanaf 1 Julie.

“As die dorp se strate netjies was en jy het elke dag water in jou kraan gehad en jy het krag gehad, het niemand omgegee om te betaal nie. Belasting en eiendomsbelasting sal egter altyd met ons wees. Julle as gemeenskap moet saamstaan vir die minimum regte wat aan julle toegeken word en julle moenie met die tweede beste tevrede wees nie,” het DA provinsiale leier Jacques Smalle alles saamgevat.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines