ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Hester Lombard (86).

Legendariese tannie Hester oorlede

 

News  Date: 11 July 2014

 

Een van die Soutpansberg se formidabele boervroue, wat in lewe saam met haar man legendariese status bereik het, is Maandag oorlede.

Tannie Hester Lombard, eggenote van wyle oom Hans Lombard, is op 7 Julie na ‘n lang stryd met Alzheimers in die Ons Tuiste-inrigting in Pretoria in die ouderdom van 86 oorlede.

Tannie Hester, gebore op 10 Januarie 1928, het op Levubu grootgeword. As jong vrou het sy vir jare by die Louis Trichardt Magistraatskantoor gewerk. Sy is later met die eweneens legendariese oom Hans Lombard van die plaas Sandfontein getroud. Hy was self ‘n pioniersfiguur van die Soutpansberg, wat op sewejarige ouderdom in die laat 1920’s saam met sy familie na die streek verhuis het.

Saam het wyle oom Hans en wyle tannie Hester ‘n voorslagspan gemaak en het hulle met absolute deursettingsvermoë die plaas getem, waar hulle met avokado’s, pekanneute en hoenders geboer het. Wyle oom Hans het ook boerderybelange by Kranspoort gehad, waar hy met beeste geboer het en was tot op 60-jarige ouderdom ook aan die stuur by die bekende Stasie Vervoer besigheid en Sandfontein Transport.

Die Lombard-egpaar was nie net baie gerespekteer deur hulle eie volksgenote nie, maar ook deur die Venda-gemeenskap. So het hulle wyle oom Hans aangespreek as die “Groot Kaptein” en het baie van die plaaslike bevolking steeds hul weg gevind na die Lombards se woning nadat hulle dorp toe getrek het.

Dit was egter op geestelik vlak waar die Lombard-gesin die meeste respek afgedwing het. Beide was diep gelowige mense wat hul Christenskap op alle fronte van die samelewing uitgeleef het. As kerkmense het die egpaar diep spore getrap. Wyle oom Hans was aan die voorpunt met die bou van die NG Kerk Soutpansberg in 1954 en hy het ook ‘n groot rol gespeel om ‘n geskiedkundige kerkklok by die gemeente uit te kry vir die kerk se 21-jarige feesviering. Die Lombards het ook toegesien dat die evangelie weekliks gebring is aan al hul plaaswerkers.

Wyle oom Hans het tannie Hester op 12 Junie 2009 ontval, ‘n dag na hul 60ste huweliksherdenking. Die egpaar was toe vir ‘n kort tydperk woonagtig by Loeriepark. “Kort na sy dood is Ma met Alzheimers gediagnoseer en is sy later opgeneem in die Ons Tuiste oord in Pretoria. Haar gesondheid het die afgelope paar jaar dramaties agteruitgegaan,” het dogter Amanda Dinsdag gesê.

Wyle tannie Hester word oorleef deur haar dogter en skoonseun, Amanda en Hermann Jansen van Rensburg, en kleinseuns Jurgens (27) en Christoff (23), asook dogter en skoonseun Noëlene en Somerset Morkel, en kleindogter Nola (16). ‘n Roudiens is Woensdag, 9 Julie, vir haar vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg gehou. Die diens is waargeneem deur prof. Koos van Rooy.

Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor alle familie en vriende vir hul boodskappe van vertroosting en ondersteuning met die nuus van tannie Hester se dood. “Ons wil graag vir ons ma dankie sê vir die opvoeding wat ons gekry het en dat sy ons geleer het wie die Here is. Die Here was haar alles gewees en dit is ook ons Here,” het dogters Amanda en Noëlene gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines