ADVERTISEMENT:

 

Bo: Wyle sers. Kobus Nel (35). Onder: Thereza Richards (33) wat Vrydag in die hof verskyn het op ‘n klag van moord.

Polisieman doodgeskiet op verlowingsaand

 

News  Date: 16 July 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Daar is net twee mense wat weet wat die aand gebeur het en die een is dood.”

Dit was een inwoner se opmerking rakende die tragiese skietdood van ‘n bekende polisieman van die omgewing, sers. Kobus Nel (35). Sy dood het wydverspreide spekulasie tot gevolg gehad oor die omstandighede wat daartoe gelei het. Dit sluit die moontlikheid van selfmoord in.

Nel is dood aan ‘n skietwond net bokant sy hart met sy 9mm-dienspistool. Ten tye van die voorval was hy alleen saam met sy vriendin, Thereza Richards (33), by sy woning te Bredastraat 32. Die voorval het Woensdag (7de) omstreeks 22:00 plaasgevind.

Nel en Richards sou die aand van sy dood verloof geraak het. Die verloofring is in sy sak gevind, waar hy voor sy motorhuis inmekaar gesak en gesterf het. Lede van die polisie se forensiese afdeling het bevind dat hy in sy kombuis geskiet is. Merke teen die muur waarvandaan die koeël weggeskram het, getuig hiervan.

Talle gerugte doen die rondte dat Richards dalk vir sy dood verantwoordelik kon wees. Richards en Nel was na bewering oomblikke voor die noodlottige skoot in ‘n uiters hewige argument betrokke. Richards beweer egter sy het hom nie geskiet nie.

Familie het die afgelope week gesê daar is baie spekulasie, maar hulle wil nie vingers wys nie.

“’n Mens moet die gereg sy gang laat gaan,” het Nel se broer, Jaco, Woensdag opgemerk.

‘n Emosionele Richards het Vrydag (9de) in die plaaslike landdroshof verskyn op ‘n klag van moord. Haar saak is uitgestel tot 15 September in afwagting van die forensiese verslag. Sy is op R1 500 borg vrygelaat.

‘n Roudiens is Dinsdag vir Nel vanuit die Agapé-gemeente gehou. Hy word oorleef deur sy drie kinders, Jean-Pierre (14), Milandri (9) en Brenden (4), sy ma, Ella, broers Bertie en Jaco en susters Anneke en Karin.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines