ADVERTISEMENT:

 

Bek-en-klouseer weer onder beheer

 

News  Date: 15 February 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die Bek-en-Klouseer probleme in Zimbabwe is voorlopig verby en die toestand is weer normaal.

Op die jongste vergadering van die Soutpansberg Landbou-unie het 'n verteenwoordiger van Veeartsenydienste, dr. Piet Loock, besonderhede verskaf oor die huidige status van die siekte noord van die Suid-Afrikaanse grens met Zimbabwe.

Hy het gesê die onwettige plaasbesettings het egter 'n vloei van vee in ontoelaatbare rigtings tot gevolg en dit bemoeilik die algehele beheer van vee uit gevaargebiede.

Dr. Loock sê die grensheining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is oor die algemeen in 'n goeie toestand. Diefstal van die draad van die heining kom egter nog periodiek voor. Die Vhembe-gaping in die grensheining is die gevaarlikste gedeelte.

Die heining vanaf die Sandrivier tot by die Madimbo Korridor is in 'n besonder goeie toestand na die jongste opgradering. Die heining word geëlektrifiseer en werk vorder goed.

In verband met die buffelteel-projek by Poppalin Ranch, het die vergadering kennis geneem dat 'n nuwe, streng en verbeterde protokol vir die teel van buffels in die gebied na deeglike ondersoek en navorsing opgestel is.

Dr. Loock het die vergadering meegedeel dat snotsiekte nou weer 'n probleem word in die gebied. Dit word toegeskryf aan die vrye beweging van blouwildebeeste. In die verlede kon blouwildebeeste slegs hervestig word op plase waar hulle vantevore voorgekom het. Die beperking is later afgeskaf en die enigste voorwaarde was dat die plase waarop hulle gevestig word, wildwerend omhein moes wees. Die moontlik bestaan egter dat die vorige beperkings weer ingestel kan word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines