

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 February 2002
LOUIS TRICHARDT – Mnr. Derick Koekemoer, bestuurslid van die Bosveldjagtersvereniging, is 'n geregistreerde bona fide jagter wat baie bekommerd is oor die implikasies van die nuwe wapenwet.
Die nuwe wetgewing is reeds afgekondig in die Staatskoerant, Gazette 66 van 2000 en sal na beraming voor die einde van die jaar in werking tree.
"Volens my interpretasie van die konsepwetgewing, maak die nuwe wapenwet dit so moeilik as moontlik vir jou om 'n vuurwapenlisensie te bekom. Voorts word 'n deel van die Afrikaner se kultuur bedreig, want die Afrikaner is bekend daarvoor dat vuurwapens en jag as't ware deel vorm van sy kultuur," sê mnr. Koekemoer.
Hy skets die probleem wat geskep word deurdat daar nie 'n kategorie vir erflating van vuurwapens is nie. Hy het pas sy erfstuk van sy oupa aan sy pa vir sy pa teruggegee. Hierdie geweer dateer uit die 1880's en is 'n dubbelloopgeweer wat in Engeland vervaardig is, 'n 20-boor haelgeweer wat 'n 577 Martini Henry koeël gebruik waarvan die haan nog teruggetrek word.
"Voor ek daardie kosbare geweer kan hou, moet ek lid word van 'n geakkrediteerde versamelaarsvereniging vir daardie spesifieke soort geweer en hoe word jy lid van 'n versamelaarsvereniging met net een geweer van daardie soort?"
Mnr. Koekemoer voel dat onskuldige burgers gepenaliseer word deur die nuwe wapenwet wat volgens hom nie die wettige vuurwapeneienaar beskerm nie. Hy sê voorts dat dit nie noodwendig misdaad gaan bekamp nie.
"Waarom moet 'n wet wat sekerlik uiters duur sal wees om te implementeer, alles so ingewikkeld maak vir die wetsgehoorsame wapeneienaar?"
Mnr. Fred Mulders, voorsitter van die Bosveldjagtersvereniging, sê dat as dit nie was vir CHASA (Confederation of Hunters Association of South Africa) se praktiese en gebruikersvriendelike voorleggings nie, sou die nuwe wapenwet seker nog meer drakonies daar uitgesien het.
Die konsepwet bepaal dat die geleentheidsjagter en -sportskut nie meer as vier vuurwapens in totaal mag besit nie, waarvan een vir selfverdediging mag wees. Van oortollige wapens moet ontslae geraak word. 'n Maksimum van 200 koeëls per gelisensieerde wapen mag in die lisensiehouer se besit wees. Vir die persoon wat aan 'n jagtersvereniging behoort en as 'n toegewyde jagter (dedicated hunter) geklassifiseer is, is daar nie 'n beperking op die aantal jaggewere nie, hoewel elke jaggeweer nog steeds deeglik gemotiveer moet word. Om meer as een handwapen te besit, is registrasie by en aktiewe deelname aan 'n geakkrediteerde skietklub noodsaaklik. Die klubs moet jaarlikse verslae indien.
Uit 'n betroubare bron is verneem dat net die tender vir die stelselimplementering van die nuwe wetgewing R30 miljoen bedra.
Vrae en probleme rondom die voorgestelde wapenwet kan gerig word aan www.saps.org.za, 'n webwerf waar die konsepregulasies van die nuwe wetgewing ter insae is.

ADVERTISEMENT:
