ADVERTISEMENT:

 

Nuwe tronk amptelik geopen

 

News  Date: 08 February 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die wêreld se grootste private maksimum sekuriteits gevangenis, die Kutama/Sinthumule Gevangenis, het Vrydag (1ste) net buite Louis Trichardt geopen.

Die gevangenis is amptelik deur die Minister van Korrektiewe Dienste, mnr. Ben Skosana, geopen, kort nadat ‘n simboliese sleutel aan hom oorhandig is deur die Minister van Openbare Werke, mev. Stella Sigcau.

Die gevangenis is oor ‘n periode van 18 maande opgerig teen ‘n koste van net meer as R345 miljoen. Naas die Mangaung Maksimum Sekuriteits Gevangenis in Bloemfontein, is dit die tweede private gevangenis in Suid-Afrika en die grootste van sy soort in die wêreld. Beide projekte is in 1997/98 geïnisieer deur die Departement van Openbare Werke namens Korrektiewe Dienste en is opgerig deur gebruik te maak van kapitaal en kundigheid uit die privaatsektor. Die tender vir Louis Trichardt is toegeken aan South African Custodial Services (SACS), ‘n konsortium bestaande uit Wackenhut Corrections, ‘n Amerikaanse maatskappy, en hul Suid-Afrikaanse vennote, Kensani Corrections, ‘n vroue bemagtingingsmaatskappy.

Tydens sy toespraak het Minister Skosana SACM, asook hul sub-kontrakteurs CGM, gelukgewens met die feit dat hulle die projek op datum voltooi het. Hy het bygevoeg dat dit iets is wat selde gebeur. CGM is ‘n onderneming wat saamgestel is uit drie plaaslike kontruksiemaatskappye, naamlik Concor, Group 5 en Makhosi Holdings.

Wat die funksionering van die gevangenis betref, het Minister Skosana gesê dat die gevangenis in lyn met die beleid en voorskrifte van die Departement van Korrektiewe Dienste bestuur sal word. Rehabilitasie speel hierin ‘n groot rol en verskeie opvoedingsprogramme is in plek om betekenisvolle vaardighede en gewoontes aan gevangenes te leer. Die programme is ook daarop gemik om gevangenes te help om binne die gevangenis aan te pas. Minister Skosana het dit egter duidelik gestel dat die gevangenis onafhanklik van die Departement van Korrektiewe Dienste sal funksioneer, binne die raamwerk van die land se wette. Die bestuursproses sal egter deur ‘n lid van die Departement gemonitor word en enige afwykings ten opsigte van hul kontrak met die Departement, soos byvoorbeeld ontsnappings, sal swaar boetes tot gevolg het. Minister Skosana sê egter dat hy daarvan oortuig is dat die verhouding tussen die Departement en die privaatsektor aktiewe kompetisie tot gevolg sal hê wat sodoende die twee partye sal aanspoor om ‘n beter kwaliteit diens te lewer.

Minister Skosana het kortliks ook die probleem van oorbevolking in die land se gevangenisse aangeraak. Op 24 Januarie vanjaar, sê hy, was daar 176 588 gevangenes in aanhouding. Altesaam 55 576 van hierdie gevangenes was nog nie gevonnis nie, terwyl 121 012 reeds gevonnis was. In teenstelling hiermee kan die land se gevangenisse slegs 105 106 gevangenes akkommodeer, wat beteken dat die land se gevangenisse met 71 482 gevangenis of 68% oorbevolk is. In die lig hiervan gesien, het Minister Skosana die hoop uitgespreek dat die probleem van oorbevolking deurlopend aangespreek sal word deur betrokke te raak in projekte soos die Kutama/Sinthumule Gevangenis in samewerking met die privaatsektor.

Tydens die openingsfunksie is daar ook ‘n spesiale gedenksteen onthul ter nagedagtenis aan mnr. Josiah Nkosi van Makhosi Holdings. Mnr. Nkosi is in November verlede jaar, skaars drie maande voor die opening van die gevangenis, deur ‘n groep aanvallers voor sy huis vermoor. Die gedenksteen is deur sy vrou, mev. Primrose Nkosi onthul.

Die Kutama/Sinthumule Gevangenis maak voorsiening vir 3024 beddens en die eerste gevangenes sal op 19 Februarie arriveer. Die gevangenis sal vir ‘n periode van 25 jaar deur SACS bedryf word, waarna die verantwoordelik weer sal terugval na die Staat

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines