

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 February 2002
LOUIS TRICHARDT – Een van die streek se bekendste leraars, ds. Albert Cruywagen, sal eersdaags na 28 jaar as predikant in die N.G. Kerk uit die bediening tree.
Ds. Cruywagen was vir bykans negentien van die 28 jaar predikant by die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente. Hy het ook die afgelope ses jaar uitgehelp by die gemeente op Soekmekaar.
Volgens ds. Cruywagen kan sy besluit om uit die bediening te tree aan verskeie faktore toegeskryf word. Meeste hiervan is as gevolg van gebeure die afgelope dertig maande. Eerstens het beide hy en sy vrou, Nelmarie, probleme met hul gesondheid ontwikkel. Tweedens het hulle vroeg verlede jaar ‘n lewensveranderende seminaar bygewoon wat hulle laat begin dink het oor hul toekoms. Nelmarie het kort daarna, in Augustus 2001, ‘n plaaslike konsessie vir vaardigheidsontwikkeling vir hoërskoolleerlinge by ‘n nasionale groep gekoop.
Intussen, sê ds. Cruywagen, het die gemeente se finansiële state getoon dat hulle nie vir baie lank twee siviele predikantposte kan onderhou nie. Dit was toe, sê hy, dat hy na vele gebede die kerkraad versoek het om sy pos te rasionaliseer.
Buiten dat ds. Cruywagen uit die permanente bediening tree, gaan hulle ook eersdaags na Pretoria verhuis waar hy en Nelmarie hul eie besigheid gaan bedryf. Hy sal egter steeds as pastorale hulp beskikbaar wees vir gemeentes in Pretoria. Soos ds. Cruywagen opmerk: “’n Mens los nie sommer jou werk waarvoor jy lief is, opgelei is en baie ervaring in het nie.”
Ds. Cruywagen het sy dank uitgespreek teenoor almal wat vriendelik en goed teenoor hulle was.
“Hierdie negentien jaar in die Noorde was ‘n waardevolle tyd. Heel waarskynlik sal die res van ons lewe ‘n nuwe dimensie bevat wat positief en verrykend op ons lewensgehalte sal inwerk. Ek is redelik seker dat my weggaan nuwe horisonne vir die gemeente sal oopmaak en ons wens almal ‘n goeie toekoms toe. Ons groet ons vriende asook die gemeentes en gemeenskap van Louis Trichardt en omgewing.”
Ds. Cruywagen en Nelmarie sal voor hul vetrek na Pretoria ‘n veiling hou waar sommige van hul meubelment verkoop sal word. Dit sluit in ‘n Embuia-boekrak, slaapkamerstelle, Victoriaanse sitkamerstel, kaste, stoele, elektriese ware en nog vele meer. Die veiling sal op 23 Februarie in die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente se kerksaal plaasvind en die afslaer is mnr. Willie Roux. Die veiling sal om 10:00 begin.

ADVERTISEMENT:
