ADVERTISEMENT:

 

Nuwe kontrakteur om N1 te voltooi

 

News  Date: 16 July 2004

 

MUSINA – Bouwerk aan die tolpadkontrak vir die 20 kilometer suid van Musina is weer volstoom aan die gang na die aanstelling van ‘n nuwe kontrakteur.

Bouwerk aan dié gedeelte van die N1-tolpad het tot stilstand geknars toe die oorspronklike hoofkontrakteur, Con Roux Construction, weens finansiële probleme nie kon voortgaan nie. Die kontrak het grootskaalse uitgrawings, grondverskuiwingswerk en geteerde ompaaie te midde van die ekologies sensitiewe kremetart Bosveldgebied behels en sluit ook die konstruksie van ‘n nuwe brug oor die Sandrivier in. ‘n Groot gedeelte van die werk – insluitende bouwerk aan die nuwe brug, is reeds voltooi.

‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het vandeesweek by navraag gesê ‘n nuwe kontrakteur, Globul Construction, is aangewys om die werk voort te sit. Die nuwe kontrakteur se werkers en toerusting is reeds oor die volle lengte van die projek ontplooi en bedrywig met die oorblywende bouwerk.

Weens die onbeplande onderbreking in die bouwerk, terwyl ‘n nuwe kontrakteur aangewys en in plek gestel moes word, tesame met die verwagte onderbreking weens die jaarlikse bouersvakansie, sal hierdie gedeelte van die nuwe tolpad nou eers aanstaande jaar heeltemal voltooi kan word.

Die grootste gedeelte van die stuk pad sal na verwagting reeds met die aanbreek van die bouersvakansie in Desember vanjaar vir verkeer oopgestel kan word. Aflewering van die finale opgradering en afrondingswerk aan die gedeelte word nou eers in Maart 2005 verwag.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines