

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT - Die wêreld se grootste maksimum sekuriteitsgevangenis onder private bestuur open Vrydag, 1 Februarie op die dorp.
Die Kutama/Sinthumule Maksimum Sekerheid Gevangenis maak voorsiening vir 3 024 beddens en is opgerig teen ‘n koste van R345 miljoen.
Dit is die tweede gevangenis wat in Suid-Afrika opgerig is en bestuur word deur ‘n private maatskappy. Dit word ook beskou as die grootste van sy soort ter wêreld. Die inrigting is in sy geheel met behulp van private sektor kapitaal en kundigheid ontwerp, gefinansier en gebou en word deur ‘n private sektor maatskappy bedryf en onderhou in opdrag van Korrektiewe Dienste.
Die eerste van dié tipe gevangenisse was die Manguang Maksimum Sekerheid Gevangenis wat verlede jaar in Julie by Bloemfontein geopen is.
Die tender vir die massiewe gevangeniskompleks op Louis Trichardt is toegeken aan ‘n konsortium bekend as South African Custodial Services, wat saamgestel is deur die Amerikaanse Wackkenhut Corrections en hul Suid-Afrikaanse vennote Kensanie Corrections, ‘n swart vroue bemagtigingsmaatskappy, in ooreenstemming met die opdrag dat die regering se sosio-ekonomiesee prioriteitstelling in die hele projek voorrang moet geniet
Die gevangenis is opgerig op ‘n perseel wat gratis beskikbaar gestel is deur die plaaslike owerheid van Louis Trichardt. Die reuse gevangenis sal na verwagting etlike miljoene rand maandeliks bydra tot die plaaslike ekonomie.
Tydens die agtien maande oprigtingstydperk is meer as 1 600 werksgeleenthede geskep met 1 238 plaaslike arbeiders wat uit ‘n omtrek van 90km rondom Louis Trichardt gewerf is. Plaaslike sub-kontrakteurs het 80% van die arbeidsmag verskaf, waarvan 25% vroue was.
Opleiding ten bedrae van R1 miljoen is op die perseel verskaf en altesame 600 sertifikate is daarna uitgereik aan messelaars, pleisteraars, verwers, skrynwerkers, loodgieters, toesighouers en entrepreneurs wat erkende kwalifikasies verwerf het as deel van personeelopleiding wat daarop gerig was om die deelnemers se bemarkbare vaardighede te verbeter.
Nagenoeg R86,3 miljoen van die totale boukoste het gegaan aan sogenaamde "voorheen benadeelde" ondernemings, waarvan R32,3 miljoen aan plaaslike ondernemings gegaan het.
Volgens die Minister van Openbare Werke, Me Stella Sigcau het die hele proses meegebring dat infrastruktuur geskep is wat die staat en die belastingbetalers aansienlik minder gekos het. Dit is bewerkstellig deur ‘n vennootskap tussen die staat en private inisiatief, waardeur die kundigheid en bronne van die private sektor benut word vir die versnelde daarstelling van belangrike openbare infrastruktuur.

ADVERTISEMENT:
