

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT - Mnr. Johan Jansen, bekende onderwyser by Laerskool Soutpansberg, sal eersdaags uit die formele primêre onderwys tree en vanaf 1 Maart die bestuur van Human Progress Management in Louis Trichardt oorneem.
Johan het in 1990 ‘n inwoner van Louis Trichardt geword, toe hy ‘n onderwyspos by Laerskool Soutpansberg aanvaar het, waar hy ook verskeie kere as departementshoof waargeneem het. Sy vakspesialisering was Natuurwetenskap en Wiskunde en talle van die gemeenskap se kinders het onder sy leiding in die wetenskaplaboratorium ‘n liefde vir die natuurwetenskappe ontwikkel.
Waar hy as vrygesel hom by die onderwyserskorps van Soutpansberg gevoeg het, het hy later vir hom ‘n bruid, Leslie, ingevoer om saam met hom op die personeel te dien vir etlike jare. Hulle is dus ‘n onderwysgesin in murg en been.
Buiten die klaskamer, het swem en mnr. Jansen ook al amper sinonieme geword, aangesien hy vanaf 1992 die swemmers afgerig het. Met die privatisering van die swemklub in 1998 was hy in beheer daarvan en het die klublede gereeld die nuus gehaal met hul uitstaande swemprestasies. Mnr. Jansen verlaat die swemklub, aangesien hy voortaan nie in die middae beskikbaar sal wees nie, maar hy verseker die gemeenskap dat die swemklub steeds voortgaan onder die bekwame leiding van goeie afrigters.
Verder was mnr. Jansen vanaf 1990 elke jaar die hooforganiseerder van die atletiek en hy het ook elke jaar rugby en krieket afgerig.
"’n Hoogtepunte vir my was die jaar toe die tweedes die rugbyliga in die Noordelike Provinsie gewen het en die O/11-krieketspan tot in die finaal deurgedring het," sê hy.
"’n Laerskoolkind is baie ontvanklik en ek sal hulle mis. Om nie meer met die natuurwetenskappe te werk nie, sal ek ook mis. Ek wou egter nog altyd graag my eie besigheid besit en bestuur en ek bly steeds in die onderwyslyn, alhoewel ek nou hoërskoolkinders gaan help met studiemetodes. Daardeur hoop ek om ‘n diens aan die gemeenskap te bied."

ADVERTISEMENT:
