

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT - Pieter Steenberg, sersant-majoor by die tegniese afdeling van LMB Louis Trichardt, glimlag breed van dankbaarheid, nadat hy wonderbaarlik genees is van ‘n arterie-vernouing wat hom op 39-jarige ouderdom ‘n beroerte-aanval besorg het in Desember 2001.
Volgens mnr. Steenberg was die neuroloog van Een Militêre Hospitaal, dr. Domann, totaal stomgeslaan toe hy die uitslag van die nuutste angiogram met die vorige toetse vergelyk.
"Hy het vir my gesê: ‘Ek weet nie wat om te sê nie; ek kan nie eers vir jou sê kom oor twee maande terug nie, want hier is geen vernouing meer nie.’ Ek weet egter dat die Here my genees het, nadat baie gebede vir my opgegaan het. Die ouderlinge het vir my gebid volgens Jakobus 5:14 op Sondag, 13 Januarie en die daaropvolgende week het ds. Sampie van Niekerk weer spesifiek gebid dat die toetse moet wys dat daar geen letsel is nie," vertel Steenberg.
Na sy beroerte aanval het die rekenaar tomagram (CAT-SCAN), MRI-skanderingstoetse en die TEE-hartsonar in Desember getoon dat die verminderde bloedtoevoer na die linkerkant van die brein veroorsaak is deur ‘n vernouing in die linker nekarterie. Op 21 Januarie is ‘n viervat serebrale arteriogram-angiogram deur prof. Fourie van die Unitas Hospitaal gedoen waar die uitslag getoon het dat die vernouing heeltemal verdwyn het.

ADVERTISEMENT:
