ADVERTISEMENT:

 

Gewilde onderwyser skuif na groener weivelde

 

News  Date: 01 February 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Na meer as tien jaar as Departementshoof Opvoedkundige Leiding by Laerskool Soutpansberg en altesaam 21 jaar in die beroep, het mnr. Deon Holtzhausen onlangs besluit om die onderwys vaarwel te roep.

Deon, wat vir die grootste deel van sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Louis Trichardt verbonde was, het sy onderwysloopbaan ook in die dorp begin in 1981 by Laerskool Louis Trichardt. Na ‘n draai by Witbank en Bekker Laerskool in Magaliesburg, het hy in 1991 aangesluit by die onderwyserskorps van Laerskool Soutpansberg. Alhoewel Wiskunde, Aardrykskunde en Geskiedenis sy gunstelingvakke is, was hy deur die jare beskikbaar om amper elke vak in die boek aan te bied, van Noord-Sotho tot Tegnologie.

“Elke tree wat ‘n kind vorentoe gee met ‘n 2% of ‘n 5% is vir my ‘n beloning, asook die goeie vordering en prestasie wat die kinders op hoërskool en in matriek toon,” sê mnr. Holtzhausen.

“Sportgebeure wat my altyd sal bybly is die keer toe die O/10- en O/11-spanne die krieketliga gewen het. Ek sal ook altyd met aangename herinneringe dink aan rugbysterre soos Charl Bezuidenhout en Ricky de Faria en langafstandatlete soos Miemie le Roux, die Jefferies-dogters en die Odendaal-dogters.”

Deon vertel dat dit ‘n uitdaging was om elke kind se talente te sien groei in die betrokke sport. Hy het ook die avontuurklub geniet en dit as ‘n voorreg beskou om met die prefekte en skolierpatrollie te kon werk.

Op ‘n vraag waarom hy die onderwys verlaat, dui mnr. Holtzhausen aan dat finansiële redes en die toekoms van die man in die onderwys die deurslag gegee het.

“Ek het besef dat die tyd aangebreek het om my eie gesin ‘n slag eerste te stel.”

Mnr. Holtzhausen geniet tans ’n verloftyd van welverdiende rus, waarna hy as Eenheidsbestuurder in diens van SACM (South African Custodian Management) by die Kutama/Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis werksaam sal wees.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe uitdaging en begin eersdaags met intensiewe opleiding,” sê Deon.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines