

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2014
Daar is steeds geen vordering in die saak van die twee mans wat verdink word van die aanval op mnr. Hannes Kelly van Levubu nie.
Tabelo Teophillus Singage (20) en Maxwel Conti Ntatamala (23) het verlede Vrydag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op enkele klagte van moord en huisbraak. Hulle is op 10 Mei vanjaar gearresteer nadat ‘n selfoon, wat glo aan Kelly behoort het, in hul besit gevind is.
Die 52-jarige Kelly is op Werkersdag (1 Mei) deur twee mans met hamers en stokke aangeval, terwyl hy besig was om sy vullis uit te neem. Die rowers het Kelly vir dood agtergelaat, nadat hulle hom geforseer het om sy kluis vir hulle oop te maak en al sy geld en selfone geroof het. Kelly is drie dae later oorlede, nadat hy by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal inmekaar gesak het.
Intussen het Singage en Ntatamala al verskeie kere in die hof verskyn, maar elke keer is hul saak uitgestel. Met hul voorlaaste verskyning is die saak uitgestel in afwagting op ‘n beslissing van die Direkteur van Openbare Vervolging (DoV) of hulle vervolg moet word of nie. Die boerderygemeenskap van Levubu het egter beswaar aangeteken omdat die saak teen die twee mans so sloer. Tydens hul hofverskyning in Julie het die landdros ook kapsie aangeteken dat die ondersoekbeampte in die saak nog nie een keer in die hof verskyn het nie, en dat hy die saak van die rol gaan skraap as dié beampte nie vinnig sy samewerking wys nie.
Dié beampte was wel verlede week in die hof, en die koerant het betroubaar verneem dat hy deur sy departementshoof aangespreek is ná die landdros se uitspraak. Verlede week is die saak teen Singage en Ntatamala egter weer uitgestel, omdat die aanklaer nie beskikbaar was nie weens ander werksverpligtinge.
Singage en Ntatamala se saak is uitgestel tot 26 September, waarna die DoV se beslissing na verwagting bekend gemaak sal word.
Die Zoutpansberger het van verskeie boere in die Levubu-omgewing verneem dat Singage en Ntatamala van talle ander misdade verdink word. Hierdie bewerings word nog deur die Levubu polisie ondersoek.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
