ADVERTISEMENT:

 

Steeds vrae rondom nuwe nommerplate

 

News  Date: 01 February 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Dit is duidelik dat die stof rondom die aanbring van nuwe nommerplate, waarop die provinsie se naam en wapen verskyn, nog lank nie gaan lê het nie.

Talle ontstoke inwoners het na aanleiding van die berig Voertuigeienaars het grasie tot einde Januarie vir nommerplate in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger, te kenne gegee dat hulle nie hul nommerplate gaan vervang nie. Hul hoofargument teen die aanbring van die nuwe nommerplate hou verband met die provinsie se voorgenome naamsverandering. Daar was ook dié wat bloot uit 'n finansiële oogpunt, veral die dorp se pensioenarisse, dit duidelik gestel het dat hulle doodeenvoudig nie kan bekostig om kort-kort nuwe nommerplate aan te bring nie.

Een inwoner en eienaar van verskeie voertuie en sleepwaens, mnr. Johan van Zyl, het 'n ernstige vraagteken geplaas oor die Departement van Vervoer se geloofwaardigheid met betrekking tot die aanbring van die nuwe nommerplate. Hy het verwys na die magdom staatsvoetuie wat ook nog nie van die nuwe nommerplate voorsien is nie, ten spyte daarvan dat die normale man op die straat geforseer word met driegemente van vervolging om die nommerplate aan te bring.

"Die wetgewer stel maar 'n swak voorbeeld vir die belastingbetaler in die provinsie," sê mnr. Van Zyl.

Intussen het ook die Soutpansberg Sakekamer hul heftig uitgespreek oor die aangeleentheid.

Volgens 'n woordvoerder van die Sakekamer, mnr. André Naudé, is die nuwe nommerplate en selfs die provinsie se voorgenome naamsverandering 'n sinnelose vermorsing van die publiek se geld ter wille van ongemotiveerde en kosmetiese redes. Hy het ook gevra waarom daar nie eerder geld spandeer word op werkskepping in die provinsie nie.

Ten spyte van grootskaalse ongelukkigheid oor die aanbring van die nuwe nommerplate, is dit egter duidelik dat die Departement van Vervoer geensins van voorneme is om uitstel te gee of om te wag dat die provinsie se naam verander nie.

Volgens mnr. Koos Brits van die plaaslike Verkeersafdeling het voertuigeienaars reeds sedert Augustus 1998, toe die verandering die eerste keer aangekondig is, tyd gehad om hul nommerplate te verander. Dit opsigself, sê hy, het aan voertuigeienaars genoeg tyd gegee om die verandering te maak. Selfs al sou die Departement besluit om uitstel te verleen, sê mnr. Brits, sal dit onregverdig wees teenoor dié persone wat reeds die nuwe nommerplate aangebring het. Hy het ook weereens genoem dat voertuigeienaars vyf jaar tyd sal hê om hul nommerplate te verander, wanneer die provinsie se naam verander.

Met betrekking tot staatsvoertuie wat ook nog nie van nuwe nommerplate voorsien is nie, het mnr. Brits gesê dat hy reeds die kwessie met die provinsie opgeneem het en dat hulle onderneem het om dadelik aandag te skenk aan die probleem. Hy het bygevoeg dat daar ten opsigte van boetes eenvormig opgetree sal word teen persone, selfs al is hulle staatsamptenare, wie se voertuie nie van die nuwe nommerplate voorsien is nie. Die boetes, sê hy, beloop R200 per verkeerde nommerplaat, oftewel R400 per voertuig.

Laat Woensdagmiddag het dit aan die lig gekom dat ook die premier van die Noordelike Provinsie, adv. Ngoako Ramathlodi, ingegryp het in die geskil. Volgens 'n woordvoerder van die premier se kantoor, mnr. Obed Langa, het die premier 'n versoek ingedien by die Departement van Vervoer wat slegs betrekking het op die grasietydperk wat aan voertuigeienaars gegun word. Volgens mnr. Langa versoek die premier dat die grasietydperk vir die vervanging van die nommerplate uitgestel moet word tot einde Maart. Daarna, sê hy, sal voertuigeienaars steeds verplig word om hul nommerplate oor te skakel na dié waarop die provinsie se naam en wapen verskyn.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines