ADVERTISEMENT:

 

Duisende stroom na Messina vir sonsverduistering

 

News  Date: 01 February 2002

 

MESSINA – Duisende toeriste word noord van die Soutpansberg verwag, tydens die algehele sonsverduistering later vanjaar.

'n Ongekende toeloop van plaaslike en internasionale toeriste sal 'n hoogtepunt op 4 Desember bereik, wanneer die algehele sonsverduistering vanaf omstreeks 08:00 in 'n strook vanaf Beitbrug, verby Messina, Tshipise, Nwanedi, Mutale tot by Punda Maria en Shingwedzi in die Kruger Nasionale Wildtuin waargeneem sal kan word.

Hierdie tweede agtereenvolgende algehele sonsverduistering in Suidelike Afrika is uiters gesog onder plaaslike en internasionale besoekers, omdat dit regstreeks oor die Noordelike Provinsie waarneembaar sal wees. Die uiters rare natuurverskynsel sal nie weer voor 2030 in hierdie streek voorkom nie.

Volgens 'n kenner en lid van NASA se span waarnemers in Suidelike Afrika, Me. Magda Streicher, is daar gemiddeld een maal elke agtien maande êrens op aarde 'n totale sonsverduistering en een keer elke 360 jaar in dieselfde omgewing.

Die enigste algehele sonsverduistering wat in die twintigste eeu op land in Suid-Afrika voorgekom het, was in 1940 in die Karoo. In 1992 en 1994 was daar sonsverduisterings suid van Kaapstad oor die see waarneembaar.

Die algehele sonsverduistering wat op 4 Desember vanjaar voorkom sal om 08:18 die oggend Messina in duisternis hul. Hierna sal die volgende algehele sonsverduistering oor die vasteland in 2030 vanaf Namibië en 200km suid van Johannesburg oor Suidelike Afrika beweeg.

'n Spesiale werkswinkel word aanstaande week Woensdag (30ste) op Tshipise aangebied om rolspelers te help om die toerismegeleenthede wat uit vanjaar se sonsverduistering voortspruit, optimaal te benut.

Die werkswinkel word in die konferensiesentrum by Aventura Tshipise aangebied en begin om 09:00

Eienaars van ondernemings noord van Pietersburg word na die geleentheid uitgenooi. Bywoning is gratis.

'n Beperkte getal sitplekke is beskikbaar en mense moet per e-pos registreer by [email protected] of per telefoon by Peter Morrison by telefoonnommer (012) 991 3083.

Elke onderneming moet verkieslik net een of op die uiterste twee verteenwoordigers na die werkswinkel afvaardig.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines