ADVERTISEMENT:

 

Besware teen ontwikkeling op sportterrein aangehoor

 

News  Date: 16 July 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT)- Die munisipaliteit se idee om bestaande sportgeriewe langs die N1 op die dorp te sloop vir die ontwikkeling van ‘n omstrede sakekompleks, beweeg vandeesmaand na ‘n beslissende nuwe fase.

Die plaaslike sakegemeenskap se appél teen die plaaslike owerheid se voorneme om die dorp se sentrale sportgronde te hersoneer word op 28 en 29 Julie in die sportsaal op die sportgronde aangehoor.

Die Stadsraad het in Oktober verlede jaar besluit om voort te gaan met die beoogde hersonering, ongeag oorweldigende reaksie van die belastingbetalers op die dorp teen die hoogs omstrede voorneme. Die sakegemeenskap, georganiseerde handel en grondeienaars het hulle teen die voorgenome hersonering uitgespreek op ‘n vergadering van belanghebbendes in Junie 2003. Die openbare vergadering is belê om besware aan te hoor, nadat die Stadsraad se ingrypende besluit oorspronklik op ‘n bedenklike wyse tydens die vorige Desembervakansie geadverteer is toe feitlik niemand tuis was nie.

In weerwil van die uitdruklike afwysing van die kant van belastingbetalers, georganiseerde handel en grondeienaars, het die Stadsraad egter besluit om voort te gaan met sy eensydige hersoneringsplanne. Die Raad het die Munisipale Bestuurder in die besluit gemagtig om senior regsverteenwoordiging (op die koste van die beswaarde belastingbetalers) te bekom om die belastingbetalers se wense teen te staan. Die sakegemeenskap het onmiddellik teen dié besluit appél aangeteken.

Sakekenners voorspel dat die beoogde sakekompleks op die sportgronde langs die N1 katastrofiese gevolge vir die bestaande sentrale sakegebied op die dorp inhou.

Alle belanghebbendes word dringend versoek om die deurslaggewende appélverhoor op 28 en 29 Julie in die sportsaal by te woon. Verteenwoordigers van al die sportinstansies wat deur die hersoneringsplan geraak word, word versoek om met mnr. Kerneels Kern by tel. (015) 516 0136 of 083 264 7130 te skakel.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines