

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT – Ambulansdienste vir staatspasiënte is besig om in duie te stort.
Staatspasiënte wat van kleiner hospitale na spesialis hospitale elders oorgeplaas moet word, is op hulleself aangewese en moet vir hul eie vervoer sorg.
Hierdie toedrag van sake het aan die lig gekom, in weerwil van 'n amptelike verklaring dat die provinsiale departement verantwoordelikheid vir die oorplasing van staatspasiënte aanvaar.
Toe spesifieke gevalle verlede jaar aan die kantoor van die provinsiale departementshoof genoem is, waar die plaaslike hospitaal 'n staatspasiënt aangesê het om vir sy eie vervoer te sorg, het die provinsiale woordvoerder dit as "onmoontlik" afgemaak. Hy het gesê hoewel kleiner hospitale met net een of twee ambulanswaens uitgereik word, is die hele vloot van Metro-ambulanswaens tot die beskikking van die plaaslike hospitaal vir die oorplasing van pasiënte na Pietersburg, vanwaar hulle dan na 'n spesialishospitaal soos Ga-Rankuwa oorgeplaas word.
'n Woordvoerder van die Pietersburgse staatshospitaal het by navraag gesê sulke pasiënte wat na Pietersburg gebring word vir oorplasing na GaRankuwa, sal eenvoudig teruggestuur word, omdat daar eenvoudig nie genoeg voertuie vir die doel beskikbaar is nie.
Dit beteken dat behoeftige pasiënte uit Louis Trichardt, wat gratis spesialisbehandeling by Ga-Rankuwa hospitaal kan ontvang, die behandeling moet ontbeer weens die afwesigheid van doelmatige vervoer.
'n Staatspasiënt wat dringende behandeling by die nier-eenheid van Ga-Rankuwa moes ontvang, moes vandeesmaand sy volledige maandelikse pensioen aan brandstof bestee om met 'n private voertuig daar te kom. Die pasiënt, wat aan chroniese nierversaking ly en gevolglik werkloos is, moet maandeliks na Ga-Rankuwa gaan vir monitering en aanpassing van sy medikasie.
Nadat hy weens bykomende komplikasies na Tshilidzini oorgeplaas is gedurende Oktober verlede jaar, het Tshilidzini aanbeveel dat die pasiënt dringend oorgeplaas moet word na Ga-Rankuwa.
Die dringende oorplasing moes meer as twee maande wag, totdat die pasiënt sy eie vervoer kon reël.

ADVERTISEMENT:
