

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Jong man se ontydige rooklus en 'n netjiese ma se fyn waarnemingsvermoë het daartoe bygedra dat 'n voertuig wat in Sandton gesteel is, drie maande later deur die plaaslike eienaar in Louis Trichardt opgespoor is.
Mev. Marinda van Wyngaardt en haar gesin kan nou na heelwat spanning in ligter luim hulself verwonder oor al die onwaarskynlike "toevallighede" wat daartoe gelei het dat sy haar gesteelde mikrobus kon opspoor.
Die mikrobus het vanaf 'n hoëprofiel, maksimum sekuriteitsparkeerplek onder die wakende oog van video-sekerheidskameras by 'n hotel in Sandton oornag spoorloos deur die bewaakte veiligheidshekke verdwyn. Dit het in September gebeur, terwyl sy haar mikrobus aan 'n vriend beskikbaar gestel het om 'n groep skoolkinders op 'n naweekuitstappie na Sandton te neem. Sy moes die Sondagoggend per telefoon die skoknuus verneem dat haar bussie oornag verdwyn het. Die videokameras wat moes lig werp op die verdwyning, was tydens die diefstal onverklaarbaar buite werking.
Die spanning het verder opgelaai, toe die polisie in Sandton twee dae nadat die voorval gerapporteer is, by navraag geen dokumentasie oor die diefstalklag kon opspoor nie.
Die verlore polisiedokumente is na heelwat druk twee dae later in die voertuig van die ondersoekbeampte opgespoor, waar dit vergete gelê het.
"Hoewel die assuransie vir die verlore voertuig intussen uitbetaal het, was ek vasberade dat ons die bussie moet opspoor. Ek het vir my man en kinders gesê ons sal hom terugkry. Die dief moet aan die pen ry," het mev. Van Wyngaardt gesê.
Op verskeie besoeke aan Pretoria het die gesin heeltyd hul oë oopgehou vir die verlore bussie, maar tevergeefs.
Toe skielik, hier in die dorp, waar niemand dit regtig verwag het nie, gebeur dit.
"Ons was saam in die motor op pad in Rissikstraat in die rigting van die N1. Ons het vroeër geknor vir ons dogter Belinda se vriend Hennie Smit wat eers sigarette wou koop. Na die oponthoud was ons net goed op pad, toe ek by die stopstraat by die Groblerstraat-kruising skielik besef: Hier kom ons bussie, reg van voor.
"Toe die bussie by ons verbyry na die stopstraat, was ek doodseker. Daar was die klein stampmerkie, amper so groot soos 'n 20c stuk, aan die regterkant net bokant die stamper."
Hulle het onmiddellik omgedraai en die bussie gevolg, op in die hoofstraat verby Werda Motors.
In die middel van die dorp, by die Trichardtstraat-kruising het die bussie by 'n rooi verkeerslig gestop en kon die Van Wayngaardt-gesin reg langs hom stilhou.
"Ek was toe doodseker, want daar was die klein krapmerkie agter die voordeur."
Aangesien die drie insittendes van die bussie tekens getoon het dat hulle onraad begin bemerk, het Belinda en Hennie uitgeklim en na die polisiestasie toe begin beweeg om hulp te ontbied.
Die bussie het tot digby die polisiekantoor gery en toe 'n U-draai by Landdrosstraat gemaak. Die gesin se voertuig het dwars voor die bussie in beweeg en hom tot stilstand gedwing tot groot verontwaardiging van die bestuurder van die gesteelde bussie.
Die polisie het intussen opgedaag en die motordiefstaleenheid uit Thohoyandou is ontbied.
Nadat die rekenaargegewens oor die voertuig nagegaan is, was daar sterk sprake om die bestuurder sonder meer te laat loop.
"Ek het die ondersoekbeampte se aandag daarop gevestig dat die mikrobussie nou as 'n Caravelle geregistreer is en hom op die verskille tussen die twee soorte voertuie gewys. Die bestuurder het teenstrydige bewerings gemaak oor hoe hy die voertuig bekom het.
Alle uitkenningsnommers op die voertuig se bakwerk is uitgesaag. Mevrou Van Wyngaardt kon egter genoeg onopvallende uitkenningsmerke aan die polisie verstrek om hulle daarvan te oortuig dat die voertuig wel gesteel is.
Die bestuurder, wat niksvermoedend van Sandton af onderweg was na Thohoyandou om by vriende te kuier, is die daaropvolgende Maandag voor die hof gebring om te verduidelik hoe hy werklik in besit gekom het van die bussie.
"As dit nie was vir die vertraging met Hennie se ontydige rooklus nie, sou ons waarskynlik die bussie misgeloop het," het Mev. Van Wyngaardt vandeesweek geskerts.
Die bussie het sedert September heelwat meer prominente letsels opgedoen as die twee piepklein skrapies, wat 'n toegewyde eienaar gehelp het om 'n kieskeurige dief aan die pen te laat ry.

ADVERTISEMENT:
