ADVERTISEMENT:

 

Polisie vou hande terwyl stropers toesak op ongelukstoneel

 

News  Date: 18 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT – "Die een se dood is 'n ander se brood." Die bekende spreekwoord het verlede Woensdag (9de) opnuut inslag gevind na 'n noodlottige ongeluk op die N1 tussen Louis Trichardt en Messina.

Die bestuurder van 'n gelede vragmotor het klaarblyklik beheer verloor oor die voertuig, waarna dit teen 'n wal gebots het, omgeslaan het en teen 'n afgrond afgestort het. Die vragmotor se vrag, bestaan uit sowat 34 ton geblikte kos van die Giants-aanleg op Makhado, oftewel 72 000 blikkies, het in die proses afgeval. Die ongeluk het net voor 14:00 plaasgevind naby die Witvlag-afdraaipad. Beide die bestuurder van die vragmotor, asook sy assistent, is in die ongeluk dood.

Volgens wet mag geen voorwerp of item vanaf 'n ongelukstoneel verwyder word, sonder die toestemming van die eienaar nie. Ten spyte hiervan, het talle omstanders op die ongelukstoneel toegesak en begin om die kos te plunder ten aanskoue van beide die polisie, asook verkeersbeamptes. Wat sake nog erger gemaak het, is die beweringe dat ook van die polisie- en verkeersbeamptes van die kos vir hulself toegeëien het.

Een inwoner, wat anoniem wil bly, vertel dat hy gesien het hoe polisie- en verkeersbeamptes saam met ander plunderaars hul voertuie vol van die blikkies kos laai. Van die blikkies, sê hy, is selfs tussen die lyke in die lykswa gepak.

Nog 'n inwoner en bekende plaaslike sakeman, wat ook anoniem wil bly, sê dat hy dié betrokke dag vier keer by die toneel verby gery het. Hy het ook beaam dat polisie- en verkeersbeamptes van die kos in hul voertuie gelaai het. Hy het bygevoeg dat daar geen teken van merkbare polisiëring en verkeersregulering op die toneel was nie. Die verkeer, sê hy, is gereguleer deur 'n lid van die plaaslike brandweer en 'n onbekende man in siviele klere.

"Sê nou net ek en my gesin is in 'n ongeluk, wie sal ons eiendom beskerm. Dit is tog die polisie se werk, maar dit blyk asof die polisie nie die vermoë het om dit te beskerm nie. Ek wil graag hê dat daar ondersoek ingestel moet word oor hul optrede," het die man opgemerk.

By navraag of daar enigsins aan iemand toestemming gegee is dat die kos verwyder mag word het mnr. Sean Sandham, Operasionele Bestuurder van Giants, gesê dat toestemming slegs aan die insleepdiens gegee is om die kos te verwyder. Die insleepdiens moes die kos vir bewaring neem na hul skrootwerf. Hy sê egter dat slegs sowat 20 000 van die blikkies na die plundertog herwin kon word, buiten die sowat 30% wat in die ongeluk beskadig is.

Die plaaslike stasiekommissaris van die SAPD, Supt Jansen Ngoveni het Dinsdag sy skok uitgespreek oor die aantygings. Hy het gesê dat sou dit wel so wees dat polisiebeamptes van die kos gevat het, daar ernstige dissiplinêre stappe teen hul geneem sal word. Hy het ook onderneem om dadelik die voorval te ondersoek en binne die volgende week terugvoering te gee oor die aangeleentheid. In dieselfde asem het Supt Ngoveni opgemerk dat 'n ongelukstoneel onder geen omstandighede 'n plunderarea is nie.

Mnr. Freek van Niekerk, hoof van die plaaslike brandweer, het ook sy kommer uitgespreek oor die beweringe en gesê dat daar drasties opgetree sal word teen enige van sy personeel wat hulself skuldig maak aan só 'n misdryf. Hy sê dat sy personeel deeglik daarvan bewus is dat dit onwettig is om enige voorwerp of item vanaf 'n ongelukstoneel te verwyder. Selfs al sou die eienaar toestemming gee om goedere te verwyder, sê hy, verkies hy dit om steeds nie die goedere verwyder nie.

"'n Lid van die publiek, wat miskien nie daarvan bewus is dat die eienaar toestemming gegee het nie, kan dalk sien hoe jy iets in die brandweer laai. Dit kan maklik lei tot beskuldigings soos dié wat nou geopper word teenoor die polisie- en verkeerspersoneel," sê mnr. Van Niekerk.

Mnr. Koos Brits van die munisipale Verkeersafdeling het in reaksie op die voorval gesê dat inwoners dadelik sulke voorvalle moet rapporteer. Hy sê dat dit ongelukkig baie moeilik is om teen persone op te tree, indien niemand dit aanmeld nie. Hy het inwoners uitgenooi om enige soortgelyke onreëlmatighede direk aan hom te rapporteer.

"Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word," sê mnr. Brits.

Mnr. Brits kan geskakel word by tel. 072 155 2099 of 516 0212.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines