ADVERTISEMENT:

 

Krokodil uit "kake van die dood" gered

 

News  Date: 18 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT - 'n Twee-en-'n-half meter krokodil is Maandagaand, 14 Januarie van 'n gewisse dood gered, toe mnre. Alex Huth en Vincent Janse van Rensburg (beter bekend as Chucky) vir ta te hulp gesnel het op die openbare pad tussen Timbadola en Siville.

Om agtuur die aand het mnre. Huth en Janse van Rensburg gereageer op 'n oproep van een van die personeellede van die Timbadola Saagmeule wat die krokodil in die pad gewaar het. Twee mans het die reptiel reeds in die sloot langs die pad gedwing waarna hulle hom met panga en assegaai van kant wou maak.

Die Ben Lavin Natuurreservaat is eerste geskakel vir hulp, maar hulle het nie 'n vanghok beskikbaar gehad nie. Die polisie en die brandweer kon ook nie help nie. Chucky en Alex het toe soos regte krokodilvangers die stryd aangepak om hom te vang en sodoende sy lewe te red.

'n Gestoei van amper vier ure het gevolg, totdat Chucky, Alex en Wilson, 'n werker wat hulle kom help het, uiteindelik die tou se lus om die bek en die stert kon vastrek. Daarna is krokodil se pote vasgetrek en kon hy agter in die kattebak van 'n Mercedes gelaai word met nat handdoeke om hom klam te hou.

"Hy was 'n tawwe man om vas te vat en was by tye baie aggressief," vertel Chucky. "Ons het deurgedruk, want dit was nog altyd my ideaal om eendag 'n krokodil te vang."

Nog was dit einde niet, want net toe die moeë krokodilvangers wou gaan slaap, ontdek hulle dat die meneer uit die Mercedes gekom het en al 30 meter gevorder het. Met 'n gespook het hulle hom weer terug in die motor gekry, waar hy hierdie keer meer geduldig gewag het om te hoor wat die toekoms vir hom inhou.

Tussen al die harwar is reëlings getref met die plaaslike DBV wat 'n hok in gereedheid gebring het vir tydelike huisvesting, totdat Omgewingsake oor sy bestemming besluit het.

"Ons sal 'n geskikte tuiste vind waar die krokodil nie bedreig word nie," het mnr. Alan McMurtrie van die plaaslike Departement Omgewingsake Dinsdag gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines