

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2002
LOUIS TRICHARDT – Gewilde veteraan onderwysman, Otto Olivier, is hier in die ouderdom van 68 jaar op 20 Desember oorlede. Hy was 'n geruime tyd siek. Die afgelope ses maande was hy bedlêend.
Die begrafnis was op 29 Desember.
Wyle Eugene Otto Olivier het vir dertig jaar lank skoolgehou by die Hoërskool Louis Trichardt.
Hy is op 25 September 1933 op Florida gebore en het as klein kind na Louis Trichardt gekom, waar sy ouers hulle op die plaas Nebo gevestig het. Hy het op Louis Trichardt skool gegaan en na skool homself as onderwyser in Pretoria bekwaam. Hy was 'n puik atleet en het tydens sy studentejare onder meer 'n nuwe rekordtyd vir die myl opgestel. Hy was ook 'n bekwame swemmer en rugbyspeler.
Op Louis Trichardt het hy by die hoërskool begin onderwys gee onder die hoofskap van mnr. S.M.N Brönn. Hy het ook gehelp met rugby-afrigting en kadette. Hy was besonder lief vir die natuur en die omgewing en het ook aansienlike kunstalent gehad, hoewel hy nie aktief geskilder het nie. Sy vader was 'n skilder. Houtwerk was sy stokperdjie.
Oom Otto is op 1 Julie, 1961 getroud. Sy eggenote, mev. June Olivier, was oorspronklik van Krugersdorp en het in Louis Trichardt vir meer as 35 jaar lank diens gedoen in die administratiewe-afdeling van die plaaslike munisipaliteit. Sy was vir 'n tyd sekretarese van die stadsklerk en later ook sekretaresse van die burgemeester, totdat sy in 1994 weens gesondheidsredes moes uittree.
Sy vertel met deernis van die besondere verhouding wat destyds tussen onderwyser en leerlinge geheers het.
"Hy was baie lief vir die kinders en hulle het destyds 'n besondere sin vir humor gehad. Sy bynaam was Ou Padda. Toe die matrieks op hul jaarlikse 'serenade' na die plaas gekom het, het hulle ons die nag twaalfuur kom wakker kwaak.
"Tydens sy betrokkenheid by die skoolkadette is die bynaam spoedig verander na "Captain Frog" na 'n insident waartydens hy sy balans verloor en van 'n walletjie op die paradegrond afgeval het. Daar was met die insident eers 'n doodse stilte, en toe het almal geskater van die lag.
"Toe hy later 'n leesbril moes aanskaf, het die porseleinpadda op sy lessenaar oornag ook 'n brilletjie gekry.
"Hy het die jongklomp se kwajongstreke en humor besonder baie geniet. Hy het tot die einde 'n besondere waardering gehad vir 'n tekening wat die seuns gemaak het van 'n padda (met sy gesig) op 'n waterlelie."
Oom Otto is in 1987 medies ongeskik verklaar weens 'n ernstige hartkwaal. Hy het geleidelik sieker geword, maar nog steeds aktief gebly. Die afgelope jaar het hy skielik baie swakker geword.

ADVERTISEMENT:
