

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2002
LOUIS TRICHARDT – Eienaars van voertuie waarvan die nommerplate nie die provinsiale wapen vertoon nie, sal voor 31 Januarie hul nommerplate moet vervang indien hulle vervolging wil vryspring.
Die kwessie rondom die aanbring van nommerplate waarop die provinsie se naam en wapen verskyn sorg tans vir baie kontroversie, veral met betrekking tot die provinsie se voorgenome naamsverandering. Baie inwoners voel dat hulle nie kostes wil aangaan om hul nommerplate te vervang nie, totdat daar duidelikheid is oor die provinsie se nuwe naam. Hul argument is dat sou hulle nou die nommerplaat verander, hulle weer kostes sal moet aangaan wanneer die provinsie se naam, heel moontlik binne die volgende jaar, verander.
Volgens mnr. Koos Brits van die plaaslike Verkeersafdeling het die grasietydperk vir die aanbring van die nuwe nommerplate reeds op 1 Januarie verstryk. Hy sê dat addisionele grasie egter aan voertuigeienaars verleen sal word tot einde Januarie vanjaar, aangesien daar tans 'n tekort aan nommerplate in die dorp is.
Wat die kwessie rondom vervolging betref, het mnr. Brits gesê dat motoriste wel vervolg gaan word indien hulle nie die nuwe nommerplate aanbring nie. Hy sê dat selfs al sou die provinsie se naam verander, voertuigeienaar volgens wet weer 'n vyf jaar intreeperiode sal kry om enige nuwe wysigings aan te bring.

ADVERTISEMENT:
