

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2002
LOUIS TRICHARDT – Goedhartigheid is nog lank nie 'n uitgestorwe deug in Louis Trichardt en omgewing nie. Daarvan kan Dennis Lloyd getuig, terwyl hy op sy splinternuwe rooi Rocky Trail Blazer-fiets sit wat "uit die bloute" vir hom afgelewer is die afgelope feesseisoen.
Dennis, wat alleen saam met sy vader in Louis Trichardt woon, vertel dat sy pa 'n oproep ontvang het om seker te maak dat Dennis tuis is waarna 'n man en vrou, wat anoniem wil bly, met die fiets by hulle woonplek opgedaag het.
"Toe ek vir die tannie dankie sê, sê sy die fiets kom nie van haar af nie, dit kom van die Here af," vertel 'n opgewonde en dankbare Dennis wat die fiets ook gebruik om in sy vrye tyd by die munisipale swembad te gaan werk.
Die verhaal van goedhartigheid het verder ontvou toe die vrou vertel het van hoe sy die seuntjie, wat lank met sy arm in gips geloop het, in die straat gesien het, terwyl 'n maat hom vervoer op 'n fiets.
"Skielik het die gedagte by my opgekom dat hierdie seun met sy gips armpie sy eie fiets moet hê. Ek het orals rondgevra vir mense of hulle nie 'n ongebruikte, stukkende fiets in hul agterplase het wat ons kan laat regmaak nie," vertel die vrou.
Toe 'n boer van Levubu met sy trok by haar werksplek opdaag, het sy hom ook genader omdat sy gemeen het dat 'n plaas heel moontlik 'n ou stukkende fiets sou oplewer. Op die boer se vraag wat sy met die ou fiets wou doen, het sy hom van die seun vertel. Nie lank daarna nie daag die boer weer op, hierdie keer met 'n splinternuwe blink fiets vir 'n seuntjie wat hy nog nooit gesien het nie.
"Ek sal nooit in my lewe daardie uitdrukking op die kindergesiggie vergeet nie."
Nog kinderharte is blygemaak in die feesseisoen toe "Mobiele Etes" hul jaarlikse funksie vir minderbevoorregte kinders van die dorp gehad het. Volgens mev. Cathy Coetzee, organiseerder van "Mobiele Etes", het weldoeners uit hul pad gegaan om geskenke en lekkernye te gee. "Ons het selfs vir elke kind 'n tandeborsel en 'n waslappie ontvang. Mense in Louis Trichardt se harte is oop om te gee, nie net vir kinders nie, maar ook vir die bejaardes aan wie ons volledige etes met nagereg verskaf teen R7 'n bord," sê sy. Mobiele Etes kan deur middel van die plaaslike CMR kantoor bereik word.

ADVERTISEMENT:
