

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 05 September 2014
Dit gaan ‘n inwoner ‘n hele paar duisend rand uit die sak jaag om ‘n munisipale elektrisiteitsmeter vir voorafbetaalde krag te kry.
Om die waarheid te sê, ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt) betaal amper twee maal soveel vir dié toestelletjie as wat Pretorianers by die Tshwane Munisipaliteit betaal.
Volgens die Makhado Munisipaliteit sal dit ‘n inwoner R4 095 kos om ‘n voorafbetaalde kragmeter te laat installeer. Die Tshwane munisipaliteit vra R2 100, alles ingesluit, en sê dat die meter binne twee tot agt weke (10 weke vir drie-fase krag) ná die aansoek geïnstalleer sal word. “Deur die belaglike prys wat ons hier moet betaal, ontmoedig die Makhado Munisipaliteit die inwoners om voorafbetaalde elektrisiteitsmeters te kry. Ek sou dink hulle moet dit aanmoedig, want dit is die oplossing vir al hul probleme met krag en rekeninge Dit sou ook die totale elektrisiteitsverbruik kon afbring,” het plaaslike elektrisiën mnr. Ronnie Levine gesê.
Die Soutpansberg Belastingbetalers Vereniging se voorsitter, Inga Gilfillan, het gesê dat sy nie kan verstaan waarom die munisipaliteit nie dié meters so-te-sê “verniet” weggee en installeer nie. “Die munisipaliteit hoef dan nie meters te lees nie en baie van die belastingbetaler se rekeningprobleme sal wegval,” het Gilfillan gesê.
‘n Voorafbetaalde elektrisiteitsmeter help nie net die munisipaliteit om onwettige kragverbruikers en kragstelery uit te skakel nie, maar dit kan ook ‘n inwoner help om sy elektrisiteitsverbruik beter te bestuur en elimineer ‘n ewigdurende bakleiery met die munisipaliteit oor foute op die kragrekening.
Die bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Sakkie Mutshinyali, het vir die belastingbetalers gesê dat ‘n maatskappy ‘n voorlegging kom maak het met ‘n hele sisteem van “Smart “meters, wat kan aantoon as ‘n verbruiker tuis met die meter peuter, maar dat hul voorlopige ondersoek alleen die munisipaliteit R1.5m sou kos.
“Dit is ons standpunt om voorafbetaalde meters aan te moedig, want dit sal baie van ons onwettige aansluitingsprobleme oplos. Waarom die meters so duur is, weet ek nie en ek sal moet gaan probeer antwoorde hierop kry. Ek weet ook dat omtrent die hele Polokwane voorafbetaalde meters gebruik,” het Musthinyali gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
