

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 05 September 2014
‘n Man wat daarvan aangekla word dat hy sy eie kleinkinders gemolesteer het, het verlede Vrydag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.
Die 55-jarige man kan nie geïdentifiseer word nie, om die identiteit van die twee slagoffertjies, ‘n meisie en seun van onderskeidelik sewe en nege jaar oud, te beskerm. Die man is die kinders se biologiese oupa en het hulle glo seksueel gemolesteer terwyl hy by die kinders se ouerhuis tuisgegaan het vroeër vanjaar.
Die man het intussen verhuis na Kempton Park, waar die plaaslike polisie se Kinderbeskermingseenheid hom opgespoor en in hegtenis geneem het. Hy is hier in Makhado (Louis Trichardt) aangekla, omdat die beweerde oortredings hier gepleeg is.
Die man se kleindogter het glo by ‘n maatjie en dié se ouers gebieg oor wat met haar gebeur het. Die maatjie se ouers het die saak by Kinderhulplyn, ‘n nie-winsgewende nasionale organisasie wat hulle beywer vir die beskerming van kinders, aangemeld, waarna die plaaslike polisie gevra is om ondersoek in te stel.
Die man staar verskeie klagte wat verband hou met die seksuele aanranding van minderjariges in die gesig. Hy mag ook later aangekla word van seksuele aansporing (grooming), nadat hy glo ook pornografie op sy selfoon aan die meisie en seun gewys het. Volgens inligting verskaf deur die polisie is daar op die oupa se selfone beslag gelê om hierdie bewerings te ondersoek. Die moontlikheid dat die man ander familielede ook gemolesteer het, word ook verder ondersoek.
Die man het Vrydag kalm voorgekom in die hof en het geen kommentaar gelewer toe sy saak uitgestel is nie. Hy is nie gevra om te pleit nie, en hy sal weer op 9 September in die hof verskyn, sodat ‘n datum vir sy borgaansoek gereël kan word. Hy sal tot dan in aanhouding bly.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
