

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 05 September 2014
Drie vermeende stropers het verlede week die Louis Trichardt Streekshof uitgedaag om te bewys dat hulle wel skuldig is aan renosterstropery.
Ignatius Kubai (33), Obed Chauke (36) en Clive Kubai (46) het op 29 Augustus hier in die hof verskyn op klagte wat verband hou met die onwettige jag en onthoring van ‘n renoster op die plaas van Johan Kruger van die Alldays-omgewing. Die dooie renoster se waarde word geskat op R300 000.
Ignatius en Chauke is op 5 Junie op Kruger se plaas aangekeer deur inwoners van die area. Kruger se regsverteenwoordiger, Hennie Erwee, het vertel dat die mans opgemerk is waar hulle onder ‘n boom gelê en slaap het, deur jagters op ‘n buurplaas. Clive Kubai is later in Polokwane in hegtenis geneem. Hy word daarvan aangekla dat hy sy broer Ignatius en Chauke sou gaan oplaai het as hulle klaar was op die plaas.
Die provinsiale polisie het ná die drie se arrestasie bevestig dat daar beslag gelê is op ‘n .375-jaggeweer met ‘n knaldemper, ammunisie, ‘n bebloede jagmes en twee renosterhorings wat by Ignatius en Chauke gevind is.
Ignatius en Chauke het tydens hul borgaansoek hierdie bewerings ontken. Ignatius het, by monde van sy regsverteenwoordiger, in ‘n borgaansoekverklaring, gesê dat hy bloot op Kruger se plaas was om te leer skiet. “Ek was op die plaas om te oefen deur op klein diertjies of wild te skiet.” Hy het bygevoeg dat hy onskuldig sal pleit op die klagte teen hom, omdat die polisie nie genoegsame bewyse het teen hom nie. Verder beweer Ignatius en Chauke dat daar ‘n paar lede van die publiek op die plaas opgedaag het met twee renosterhorings wat gesê het dié horings behoort aan hulle.
Ignatius en Chauke is ook van mening dat die polisie hulle onskuld kon bewys as hulle die saak beter ondersoek het. “Daar was geen dierlike bloed aan my klere of skoene nie, en steeds het die polisie dit nie in ag geneem nie. Ek kan net aflei dat die polisie nie hierdie bewyse in ag geneem het nie, omdat hulle geweet het dit sal my vryskeld,” het Ignatius in sy verklaring gesê.
Clive beweer dat hy in Polokwane was omdat hy sy broer se voertuig moes neem vir ‘n diens by handelaars in Johannesburg. Clive en Chauke het ook aangedui dat hulle onskuldig sal pleit.
Die drie se saak is uitgestel tot en met 28 Oktober. Die Staat sal die aansoek teenstaan, en sal ‘n getuie roep om te kom getuig in die saak.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
